SA op rand van Nederlandse siekte
Mei 14 2010 09:13
Ryk van Niekerk
Verwante Artikels
Die regering en die private sektor sal mooi moet dink oor die versoek van 3 vakbonde en 11 groot vervaardigers dat die regering die rand kunsmatig laat verswak om werkgeleenthede in die vervaardigingsektor te beskerm.
Die groep het onder leiding van mnr. Stewart Jennings, uitvoerende hoof van PG Group, en mnr. Zwelinzima Vavi, Cosatu se hoofsekretaris, ’n pleidooi gelewer dat die rand “mededingend” en stabiel moet wees. Die partye het ook laat blyk dat hulle wil sien dat ’n dollar tussen R9 en R10,50 kos.
Dié debat oor die “te sterk” rand is nie nuut nie. Dit is ook nie maklik om op te los nie, want enige inmenging kan geweldige ongewenste gevolge meebring. Dié gevolge strek veel wyer as bloot hoër inflasie en die kunsmatige beskerming van onmededingende bedrywe.
Dit is ’n uiters ingewikkelde debat en geen besluit sal alle partye tevrede stel nie.
Maak ook gereed om binnekort meer van die sogenaamde Nederlandse siekte te hoor.
Dié siekte dui op die negatiewe impak op ’n vervaardigingsektor as ’n land se grondstofbedryf se uitvoer skerp styg. Die verhoogde uitvoer laat dan die geldeenheid verstewig ten koste van die vervaardigingsbedryf.
Dit is presies wat nou in Suid-Afrika gebeur. Oudpres. Thabo Mbeki het al in sy tweede termyn na dié siekte verwys as ’n nagevolg van die geweldige toename in uitvoer van grondstowwe na China.
Suid-Afrika het ’n erge graad van dié siekte omdat die volkome vry wisselkoersbeleid eintlik by ’n ontwikkelde land hoort en nie die nodige beskerming teen die verstewiging bied nie.
In werklikheid verskerp dié beleid die simptome van die siekte.
Indien vakbonde en groot vervaardigers dink dat die antwoord bloot lê by ’n swakker rand, dan moet hulle meer dink.
Die situasie laat my dink aan wat ’n gholfafrigter een keer vir my gesê het toe ek skeef na die bal swaai: “Moenie een fout met ’n ander probeer regmaak nie. Maak eerder jou eerste fout reg, al gaan dit tyd en baie oefening verg om dit te doen.”
Dit sal ’n fout wees om bloot die rand te laat verswak om strukturele probleme in Suid-Afrika te probeer regstel.
Buiten Nederlandse siekte, is daar ook verskeie ander strukturele probleme in die plaaslike vervaardigingsektor.
Daar is ’n wesenlike tekort aan vaardighede, arbeidskoste is te hoog en arbeidsbeleid maak ondernemings huiwerig om mense aan te stel, die regering bied min steundienste en daar is nie genoeg innovasie nie.
Dit is dus nie verbasend dat die plaaslike bedryf sukkel om met China mee te ding nie.
Maar dit is nie net Suid-Afrika wat daarmee sukkel nie.
Vervaardigingsbedrywe in verskeie ontwikkelde en ontluikende lande sukkel en hulle ly nie eens aan Nederlandse siekte nie.
Die probleem rakende die “te sterk” rand moet dus in dié konteks gesien word.
Die regering moet inmeng om die wisselkoers tot voordeel van Suid-Afrika te bestuur. Die regering moet bepaal wat die optimale wisselkoers is – die koers wat die meeste voordele vir alle bedrywe in die land inhou, en dit dan daar hou.
Dit moet ook reg gedoen word. Indien nie, sal Suid-Afrika net sieker word.

No comments:
Post a Comment