Thursday, September 2, 2010

Polisiehoë skielik verplaas ná Krejcir se stelling







Polisiehoë skielik verplaas ná Krejcir se stelling
2010-09-02 00:07

Genl.maj. Joey Mabasa, omstrede hoof van die Gautengse polisie se misdaadintelligensie-eenheid, is in geheimsinnige omstandighede skielik na die polisie se hoofkantoor in Pretoria oorgeplaas.

Dit het gebeur enkele dae nadat die Tsjeggiese voortvlugtige en miljardêr mnr. Radovan Krejcir aan Rapport erken het Mabasa was “’n man na wie ek in ’n moeilike situasie vir hulp kon gaan”.

Kol. Vish Naidoo, polisiewoordvoerder, het gister bevestig Mabasa is na die misdaadintelligensie-hoofkwartier oorgeplaas. Hy het gesê die redes vir Mabasa se oorplasing is ’n “interne saak” en kan nie bekend gemaak word nie.

Volgens Naidoo weet hy nie wat Mabasa se nuwe pos is nie.

“Dit is nie ’n demosie nie, want hy behou sy rang en gaan na die hoofkwartier.”

Mabasa het gesê hy het geen kommentaar nie.

In ’n onderhoud wat Sondag gepubliseer is, het Krejcir – wat weens verskeie vermeende misdade in die Tsjeggiese Republiek gesoek word – Mabasa as ’n “opregte polisieman” beskryf en bewerings dat hy hom geld betaal het ten sterkste ontken.

Intussen het die hooggeregshof in Johannesburg gister gelas dat ’n nuwe uitleweringsverhoor vir Krejcir moet plaasvind.

Dit het gebeur nadat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) aansoek gedoen het om die hersiening van ’n landdroshofuitspraak van 2007 dat hy nie uitgelewer mag word nie.

’n Tsjeggiese hof het Krejcir in sy afwesigheid weens bedrog tot 6½ jaar tronkstraf gevonnis. Dié vonnis is Maandag met ses maande verminder.

Mabasa se verhouding met Krejcir en ander lede van die Johannesburgse misdaadonderwêreld is sedert die moord op mnr. Lolly Jackson in die soeklig.

Krejcir het aan Rapport erken mnr. Ian Small-Smith, sy prokureur, het hom aan Mabasa voorgestel.

“My prokureur het gesê hy ken die hoof van misdaadintelligensie en as jy hulp nodig het ... as jy in ’n moeilike situasie is en jy kan nie vir my wag nie of jy wil direk met die polisie skakel, is dít die persoon wat jy moet kontak.”

Vrae oor Mabasa se verhouding met Krejcir word gestel ná die moord op Jackson, baas van die Teazers-ontkleeklubs, in Mei vanjaar.

Jackson en mnr. George Smith, sy vermeende moordenaar, het albei noue bande met Krejcir gehad.

Smith – alias George Louka, ’n gewoontemisdadiger en polisie-informant – het Mabasa kort ná Jackson se dood gebel en gesê hy het Jackson geskiet. Smith het toe te midde van ’n reuse-polisiesoektog verdwyn.

In Junie het Mail & Guardian berig Krejcir se vrou, me. Katerina Krejcirova, en Mabasa se vrou, Dorcas, het in Oktober verlede jaar mededirekteurs van ’n maatskappy genaamd Radloch- ron geword.

Volgens die registrateur van maatskappye het mev. Mabasa sedertdien bedank.

Mabasa het destyds gesê hy en sy vrou is al 15 jaar geskei.

No comments:

Post a Comment