Monday, September 27, 2010

Staat kan nie bedrieërs laat wegkom nie


Staat kan nie bedrieërs laat wegkom nie
2010-09-13 22:40
Die mate waartoe die Suid-Afrikaanse samelewing met korrupsie deurtrek is, laat ’n mens wonder of die golf van korrupsie nog gekeer kan word.

In ’n berig Saterdag in Beeld is ’n skrikwekkende prent geskilder van die getal staatsamptenare wat welsyntoelaes van die staat steel.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE), ’n onafhanklike agentskap wat korrupsie in die staatsdiens ondersoek, het reeds 96 000 staatsamptenare geïdentifiseer wat welsyntoelaes steel.

’n Verdere 80 000 kan van bedrog aangekla word.

Die ondersoek moet nog uitgebrei word na munisipale amptenare. Die syfer kan dan aansienlik groei. Die omvang laat ’n mens wanhoop.

Hoe kon dit toegelaat word dat die verrotting so versprei het?

Die staatsamptenare het ’n werk en ’n salaris, anders as ’n kwart van die bevolking wat sonder werk sit.

Hulle steel van armes vir wie die toelaes bedoel is en van belastingbetalers uit wie se sakke die toelaes kom.

Tot dusver is 15 000 amptenare aan bedrog skuldig bevind.

Hulle het opgeskorte vonnisse gekry en moet die geld met rente terugbetaal.

Nie ’n enkele een wat skuldig bevind is – onder wie meer as 900 polisielede – is geskors of afgedank nie.

Die boodskap aan die bedrieërs is: Steel maar, jy sal jou werk hou en jy kan die geld soos ’n lening terugbetaal.

Dis geen wonder soveel duisende is betrokke nie.

Die beste raad kom van adv. Willie Hofmeyr, hoof van die SOE, wat sê as korrupsie nie “nou hanteer gaan word nie, gaan dit erger word. Tronkstraf is ’n goeie afskrikmiddel”.

Die ANC is kwansuis ernstig oor korrupsie, maar sy optrede spreek tot die teendeel.

Hy het die Skerpioene ontbind, sy ministers plunder die staatskas met duur motors en verblyf in weelderige hotelle en pres. Jacob Zuma se familie en vriende word kitsmiljoenêrs.

Dit alles skep die klimaat waarin korrupsie kan gedy.

Dié kanker knaag net so weg aan die land se toekoms as sake soos geweldmisdaad en armoede. Dit moet met harde optrede beveg word, nie sagkens nie.

No comments:

Post a Comment