Sunday, September 26, 2010

Renoster - "Slagplaas"


Renoster-‘slagplaas’
2010-09-25 21:18

Dr. Karel Toet Foto: Hoffie Hoffmeiste

Herman Scholtz
Die “diere-slagplaas” .

Dís hoe werkers in die omgewing van Prachtig in die Musina-omgewing dié plaas noem wat glo ’n sentrale punt is in die staat se opspraakwekkende saak teen ’n beweerde renosterhoring-sindikaat.

Verskeie beweerde betrokkenes het Dinsdag in die hof in Musina verskyn.

En straks die grootste skok met dié arrestasies deur die Valke was dat twee veeartse glo midde-in die stropery was.

Ondersoekbeamptes was die laaste paar dae op Prachtig doenig, glo om “grafte” van renosters te soek.

As deel van die beskuldigdes se borgtogvoorwaardes mag hulle niks met die 32 renosters doen wat tans daar is, óf in die ondersoekwerk inmeng nie.

Van die renosters is afkomstig van die Nasionale Krugerwildtuin en die polisie is glo op soek na karkasse van diere wat vermoedelik vir hul horings van kant gemaak is.

Kol. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die Valke, wou gister nie bevestig of hulle wel na beweerde renoster-massagrafte soek nie.

“Ons is besig om bewysstukke bymekaar te maak en die ondersoek duur voort. Ons verwag om nog minstens vyf mense te arresteer.”

’n Kenner het die afgelope week aan Rapport gesê die wrede werklikheid is dat ’n dooie renoster veel meer werd is as ’n lewende een.

’n Renosterhoring kos tot $20 000 (R140 000) per kilogram in grootmaat en ’n renosterbul se horings weeg maklik 5kg.

Dít terwyl ’n lewende renoster tans in Suid-Afrika vir van R130 000 tot R300 000 verkoop word.

Rapport verneem dat die meeste van die renosters wat ter sprake is glo op dié plaas gestroop is.

’n Ingeligte het gesê mnr. Dawie Groenewald, die eienaar van Prachtig, waar sy safari-onderneming, Out of Africa, se jagtogte gehou is, het in ’n stadium gespog dat hy 80 renosters op sy plaas het.

Van dié renosters se horings was afgesny.

Out of Africa se reuse-advertensiebord by die hek was verwyder toe Rapport die plaas Vrydag besoek het. Plaaswerkers in die omgewing het nie geweet waar die “Out of Africa”- plaas is nie, maar het blitsvinnig aanwysings gegee na die plek wat hulle die “animal butchery” noem.

Me. Wanda Mkutshulwa, woordvoerder van Sanparke, het bevestig dat Groenewald “sowat 20 tot 30” renosters by die Nasionale Krugerwildtuin gekoop het.

Dr. Karel Toet, ’n veearts wat ook gearresteer is, het ook as ’n tussenganger renosters namens Groenewald by die wildtuin gekoop.

Mkutshulwa sê hulle het opgehou om diere aan Groenewald te verskaf nadat hy vroeër vanjaar deur ’n Amerikaanse hof skuldig bevind is aan die uitvoer van ’n luiperdtrofee wat onwettig in Suid-Afrika gejag is.

Groenewald is ’n uiters berugte rolspeler in die jagbedryf. Hy was ­jare gelede ’n polisiebeampte in die voertuigdiefstaleenheid in Po­lo­kwa­ne waar hy weens voertuigdiefstal gearresteer is.

Lt.kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het dit aan Rapport bevestig. Groenewald se broer is skuldig bevind, maar hy nie.

Julian Rademeyer berig Groenewald is vier jaar gelede weens jagpraktyke uit die Suid-Afrikaanse Professionele Jagtersvereniging geskors en word belet om in Zimbabwe te jag.

Media24 se ondersoekspan het Groenewald vroeër vanjaar gekonfronteer oor bewerings van sy betrokkenheid by renosterstropery.

“Is jy laf?” het hy toe geantwoord. “In my lewe nog nie … As daar sulke bewerings is, hoekom is ek nie daarvan aangekla nie?”

Groenewald se selfoon was gister af en hy kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Hy en tien ander staan tereg op aanklagte van aanranding, bedrog, korrupsie, opsetlike saakbeskadiging, dwarsboming van die gereg en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Hulle word ook aangekla van oortredings van die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur, die medisynewet en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde misdaad.

No comments:

Post a Comment