Wednesday, August 18, 2010

Legendes van Rhodesiese weermag sterf


Legendes van Rhodesiese weermag sterf
2010-08-16 22:44
Oudlt.kol. Ron Reid-Daly. (Foto uit Selous Scouts Top Secret War deur Peter Stiff en Ron Reid-Daly.)
Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Erika Gibson
Die stigter van die Selous Scouts en nog twee legendariese lede van die destydse Rhodesiese weermag is binne twee weke dood.Al drie was vroeg in die 80 en is aan natuurlike oorsake dood. Saam verteenwoordig hulle die einde van ’n era in wat nou Zimbabwe is.Oudlt.kol. Ron Reid-Daly (82) is die afgelope week ná ’n lang stryd teen kanker in Simonstad dood. Hy was die laaste drie dae in ’n koma, het mnr. Tom Thomas, ’n oudmakker en voorsitter van die Selous Scout-vereniging, gesê.Reid-Daly was die stigter van die Selous Scouts, een van die gedugste spesialemag-eenhede van die Rhodesiese insurgensie-oorlog.Kort voor hom is oudlugmaarskalk Norman Walsh, wat van 1981 tot 1983 hoof van die Rhodesiese lugmag was, in Australië dood.Enkele dae voor Walsh se dood het oudlt.genl. Peter Walls (83) op George se lughawe inmekaargesak kort voordat hy in die Krugerwildtuin sou gaan vakansie hou het. Hy is op die toneel dood. Walls was hoof van die gesamentlike veiligheidsmagte in die bewindstyd van mnr. Ian Smith.Saam was die drie ’n gedugte span van gesoute en deurwinterde soldate wat geen nonsies geduld het nie, het Thomas vertel.Walls en Reid-Daly het in die 1950’s as C-eskader in die Britse Special Air Service (SAS) in wat deesdae onder meer Maleisië is teen kommunisme geveg. Albei was in Rhodesië lede van die Rhodesian Light Infantry (RLI).Rhodesië was in daardie tyd nog ’n Britse kolonie en dié eskader het hoofsaaklik uit Rhodesiërs bestaan.Toe Walls in 1973 iemand gesoek het om ’n teen-insurgensie-eenheid teen die toenemende instroming van nasionalistiese guerrillas in Rhodesië op die been te bring, het hy hom tot Reid-Daly gewend. Die Selous Scouts het in pseudo-oorlogvoering gespesialiseer en die vyandelike magte in die geheim geïnfiltreer. ’n Groot aantal van die eenheid se soldate was swart.Namate dit duidelik geword het dat onafhanklikheid in Rhodesië onafwendbaar was, het Walls in samewerking met mnr. Robert Mugabe al die gewapende magte in die land probeer saamsnoer.Erge teenkanting het uit die geledere van sy ondergeskiktes gekom en ’n groot aantal van die soldate het na Suid-Afrika of elders uitgewyk. Walls het tou opgegooi en ook Suid-Afrika toe getrek. Hy het nooit oor sy wedervarings geskryf nie. Reid-Daly was volgens Thomas nooit iemand wat stilgebly het as hy sterk oor ’n saak gevoel het nie. Hy het later bevelvoerder van die Transkeise weermag geword voordat hy sy eie veiligheidsonderneming in Suid-Afrika bedryf het. “Ron het altyd sy soldate en die taak op hande eerste gestel. Politiek het hom koud gelaat. Sy leierseienskappe het hom van die meeste soldate onderskei,” het Thomas gesê.’n Gedenkdiens vir Reid-Daly word Vrydag in Newlands, Kaapstad, gehou.

No comments:

Post a Comment