Tuesday, August 24, 2010

Lyfwag-moord ruk ANC


Lyfwag-moord ruk ANC

2010-08-22 23:51
Pieter Steyn
Nóg ’n vermeende politieke sluipmoord in die binnekring van die erg verdeelde ANC in die Vrystaat het die regerende party die naweek geruk.
Die moord op ’n lyfwag van die adjunk-burgemeester van Mangaung is moontlik bedoel as “’n boodskap” kort voor die plaaslike verkiesing volgende jaar.
Dit is die mening van ’n ingeligte na aan die ANC, nadat mnr. Mlungisi Sekhasa (36), lyfwag van mnr. Mxolise Siyonzana, adjunk-burgemeester, Vrydag omstreeks 19:00 by sy huis doodgeskiet is.
Dit is die derde vermeende politieke sluipmoord in die ANC die afgelope vyf jaar.
Volgens sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het Sekhasa saam met sy 27-jarige vriendin in sy huis in Khotseng naby Bloemfontein televisie gekyk toe twee keer aan sy voordeur geklop is.
Sekhasa het glo opgestaan en voordat hy die deur behoorlik kon oopmaak, is hy drie keer geskiet. Hy is twee keer in die bors en ’n derde keer deur sy hand geskiet.
Hy is op die toneel dood.
Mophiring sê daar word niks uit die huis vermis nie en die polisie kon nog nie vasstel wat die motief vir die moord is nie.
Volksblad het betroubaar verneem die moord op Sekhasa is moontlik politiek gemotiveerd en ’n boodskap van een van die faksies binne die ANC voor die plaaslike verkiesing volgende jaar.
Die ANC in die Vrystaat is in Mei geruk deur die moord op die Naledi-burgemeester, mnr. Motlatsi Motloi, voor sy huis in Wepener.
Motloi is vermoor te midde van erge spanning en wedywering binne dié munisipaliteit.
In 2005 is mnr. Noby Ngombane, vertroueling van die voormalige premier, me. Beatrice Marshoff, ook in ’n vermeende politieke sluipmoord voor sy huis in Bloemfontein doodgeskiet.
Mnr. Werner Horn, leier van die DA in die Mangaung-raad, het gister gesê die ANC moet sy voorkeure regkry voor die plaaslike verkiesing.
“Die DA neem met kommer kennis van die moord, asook die gerugte dat dit politiek gemotiveerd is.
“Die enigste ding wat op die ANC se agenda moet wees, is die verbetering van dienslewering en al is dit net ’n gerug dat die moord politiek gemotiveerd is, dui dit daarop dat die ANC se prioriteite nie reg is nie,” het Horn gesê.
Mnr. Qondile Khedama, munisipale woordvoerder, het gister aan Volksblad gesê hy is nie in die provinsie nie en het nie al die feite om kommentaar te kan lewer nie. Hy was wel bewus van die moord op Sekhasa.
Volksblad het kommentaar van verskeie senior ANC-lede in die Vrystaat soos mnr. William Bulwane, premier Ace Magashule se woordvoerder, probeer kry, maar nie een was beskikbaar nie en het ook nie op SMS-boodskappe gereageer nie.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment