Friday, August 20, 2010

‘Tribunaal is onkeerbaar’


‘Tribunaal is onkeerbaar’

2010-08-19 23:26
Verwante skakels
Mbeki swyg ná vrae oor ANC se planne vir die media
Pieter du Toit
Kaapstad. – Die regering het gister erken hy sal niks kan doen om die instelling van ’n mediatribunaal te keer as die regerende party daarop besluit nie.Mnr. Themba Maseko, kabinetswoordvoerder, het ook gesê die regering ondersoek tans modelle waarop so ’n liggaam geskoei kan word en dat “een of twee lande” se weergawes as gevallestudies oorweeg word.Hy wou egter nie sê in watter demokratiese lande die pers aan sulke instellings onderwerp word nie. Prof. Anton Harber, hoof van die departement joernalistiek aan die Universiteit van die Witwatersrand, het gesê die enigste lande met sulke instellings waarvan hy weet, is Zimbabwe en China. “Dis egter moeilik om te sê of die mediatribunaal soos dié lande s’n gaan wees omdat die ANC-planne onduidelik bly.”Maseko het uitlatings van mnre. Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, en Zizi Kodwa, pres. Jacob Zuma se segsman, beaam dat die media minder histeries moet wees, moet ophou om beledigings rond te gooi en moet begin om beredeneerd aan die debat oor ’n tribunaal deel te neem.“Ek kan egter nie nou aan spesifieke voorbeelde dink waar beledigings deur skrywers, redakteurs of politieke joernaliste rondgegooi is nie.”Hy het ná die kabinet se gebruiklike tweeweeklikse vergadering herhaal Zuma is daartoe verbind om met redakteurs te vergader sodat alle brandpunte ter tafel gelê kan word. So ’n vergadering moet volgens die kabinet help om ’n omgewing te skep waarin rasioneel gedebatteer kan word.Planne vir ’n vergadering is al twee weke gelede aangekondig, maar Zuma se vol dagboek het nog nie tyd daarvoor moontlik gemaak nie. Hoewel Maseko herhaal het die regering beplan nie om die media se beweegruimte in te kort nie, het hy gesê as die ANC ’n beleidsbesluit neem, is “die kanse is goed” dat dit uiteindelik in wetgewing beslag sal kry.Hy weet nog nie van ’n wetsontwerp wat voorberei word om ’n tribunaal te vestig nie, maar “die normale proses is dat die ANC ’n beleidsbesluit neem, dit omgesit word in regeringsbeleid en die proses van daar af natuurlik vorder”.Maseko het die versekering gegee dat hoewel ’n ANC-besluit byna onomkeerbaar is, so ’n wetsvoorstel steeds parlement toe sal gaan en die publiek wel bydraes sal kan lewer.Die negatiewe beeld wat nuusberigte oor die ANC en regering se planne in die buiteland skep, kwel die regering egter. “Die regering het nog nie besluit om die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting te onttrek nie. Dit sal egter oorweeg word as oortuigende, sterk argumente voorgelê word.”pdutoit@beeld.com

No comments:

Post a Comment