Tuesday, October 5, 2010

32 Bataljon was geréken en ‘Big Daddy’ steeds gerespekteer


Bataljon 32 Bataljon was geréken en ‘Big Daddy’ steeds gerespekteer
deur Nicie van Rensburg van Rustenburg
2010-10-03 21:56

Na aanleiding van Piet Swanepoel se nydige brief oor 32 Bataljon, “32 Bataljon die wêreld se beste? Sê wie?” (Saterdag, 2 Oktober), net die volgende:

In daardie stadium was dit die enigste konvensionele oorlog ter wêreld.

Jou doeltreffendheid word bereken deur die getal van jou eie magte en die vyand wat sterf.

Die statistieke van 32 Bataljon is daar om sy doeltreffendheid te staaf as jy net die moeite wil doen om dit te lees. “32” was gevrees onder die vyand.

Natuurlik was hulle terroriste – hulle het terrorisme ook met teeninsurgensie bekamp en was uiters suksesvol in die uitvoering en vertraging van die Kubane en die Angolese.

Hulle was nooit ’n konvensionele mag nie en het byvoorbeeld nie pantser- (tenks) en ander konvensionele eenhede aan hulle afgedeel gehad nie.

Dit was nooit hul taak om konven­sioneel te wees nie.

Die skrywer probeer “32” afkraak deur ook na hulle te verwys as strydig met internasionale riglyne.

Hy begryp duidelik nie wat die rol van “32” was nie.

Die “ratte” waarna die skrywer verwys om behoorlik te funksioneer, was ook nie vir “32” altyd daar nie.

Lees maar oor die gesukkel om wapens en logistiek – ook met die afvoer van verliese – te bekom.

Hulle het totaal onder ’n dekmantel gewerk.

Ek verstaan nie die skrywer se verdakmaking van “Big Daddy” nie.

Doen die moeite en lees Die Buffel Struikel oor “32”.

Die skrywer lewer geen nuwe bydrae nie, maar maak net verdag.

Waarna hy verwys, is vervat in die boek.

As hy die moeite wil doen om die bevelvoerder te diskrediteer is hy op gevaarlike terrein.

Piet Swanepoel kan gerus met genls. Magnus Malan, Jannie Geldenhuys, George Meiring ens. praat voordat hy sulke onbedagte stellings opper.

“Big Daddy” het ’n verlaging in rang aanvaar en as kaptein by “32” aangekom.

Hy het sy strepe in die bos verdien en uiteindelik tot bevelvoerder gevorder – en dit vanuit ’n kommando!

In die wêreld van wetenskap word jy gereken op wat kollegas van jou navorsing dink.

Dit is nie toevallig dat “Big Daddy” deur huidige Swapo-generaals genader is om saam met hulle ’n boek oor die Grensoorlog te skryf nie.

Hy is vandag welkom in hul huise in Windhoek.

As dit nie respek is van ’n mede-soldaat nie, weet ek nie wat is nie.

Ek was in die pantser en nie “32” nie, maar “Big Daddy” mag maar op sy “high horse” sit; hy is deur sy troepe en medesoldate daar gesit.

( Beeld )

No comments:

Post a Comment