Sunday, October 3, 2010

Doodgeskiet toe sy inkopies wou doen

2010-10-01 23:09

Een van die koeëlgate in ’n vertoonvenster van die NWJ-juwelierswinkel in die Carnival Mall. Foto: Wolfram Zwecker

Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's

’n Vrouepolisiekaptein van Margate is gisteroggend op haar vakansie koelbloedig doodgeskiet toe sy en haar man by ’n winkelsentrum in Brakpan op ’n rooftog afgekom het.

Haar man is ook geskiet.

Kapt. Ananda Pedlar (in haar laat 40’s), wat in dié suidkusdorp gestasioneer is, en haar man, Patrick (ook laat 40’s), het by die Carnival Mall ingestap net toe ’n groep rowers met hul buit uitstorm.

Kapt. Pedlar het vermoedelik gesnap wat gebeur en haar vuurwapen uit haar handsak probeer haal. Een van die rowers het vermoedelik gesien wat sy doen en het haar op ’n kort afstand in die nek en bolyf geskiet.

Mnr. Pedlar het haar probeer help, maar is in die agterkop geskiet. Sy seun, Craig, wat saam met hulle was, is ongeskonde, maar erg getraumatiseer.

Dit is nie bekend of mnr. Pedlar se dogter, Bianca, ook by hulle was nie. Dit is na verneem word kapt. Pedlar se tweede huwelik. Sy het twee seuns waarvan een oorsee is en die ander glo in Richardsbaai werk.

Volgens lt.kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het ’n bende van tussen vier en ses rowers gister omstreeks 09:30 die NWJ-juwelierswinkel in dié sentrum binnegestorm.

Hulle het die werknemers aangehou, van die vertoonkaste leeggemaak en sowat R500 000 se juweliersware gebuit.

Die winkel is sowat 50?m van die ingang na die sentrum waar hulle hul in kapt. Pedlar vasgeloop het.

’n Handwapen, vermoedelik haar dienspistool, is ook geroof, het Dlamini gesê.

Die rowers het verskeie skote geskiet voordat hulle in drie motors, ’n swart Toyota Rav, ’n groen Toyota Cressida en ’n ligblou Toyota (waarvan die model onbekend is) gevlug het.

Die Rav is kort daarna in Dalpark, Brakpan, gevind. Dié motor is sowat ’n maand gelede in Meadowlands, Soweto, gekaap.

Verskeie van die rowers se koeëls is deur die ruite van die Mugg & Bean-koffiewinkel in die sentrum. Niemand is beseer nie, maar van die klante was erg geskok.

’n 16-jarige seun wat winkeltrollies van die parkeerterrein terug na die sentrum neem, het gesê hy het gesien hoe een van die rowers op die vrou afstorm en haar handsak probeer gryp.

“Die man skreeu toe op haar ‘voertsek’ en toe hoor ek die skoot. Toe sy val, het haar man haar probeer help en op die rower geskreeu: ‘Hoekom skiet jy my vrou dood?’ en toe skiet die rower hom so agter die nek en hardloop,” het die seun vertel.

Mnr. Martin Prinsloo, bedryfsbestuurder van die winkelsentrum, het gesê hy was net om die hoek toe hy die skote hoor en die vrou en man by die ingang sien lê.

“Ek het handdoeke by een van die winkels gegryp, maar sy het verskriklik gebloei en ons kon niks doen nie.

“Sy was binne ’n paar minute dood. Die man is met ’n helikopter na die Netcare Unie-hospitaal gebring. Volgens die polisie is sy toestand stabiel. Die seun is daarheen gebring vir berading en traumabehandeling.”

Lt.kol. Zandra Wiid, woordvoerder van die polisie aan die KwaZulu-Natalse suidkus, het gister gesê kapt. Pedlar was “?’n stil mens, maar baie toegewyd aan haar werk en kinders”.

Sy het as klerk by die polisie gewerk voordat sy sowat twee jaar gelede tot kaptein bevorder is, berig Dries Liebenberg.

Sy het ten tyde van haar dood in die logistiek-afdeling van die Margate-polisiekantoor gewerk, het Wiid gesê.


Die lyk van kapt. Ananda Pedlar by ’n ingang van die Carnival Mall in Brakpan.
Foto: Wolfram Zwecker
(Beeld )

No comments:

Post a Comment