Thursday, October 21, 2010

Meer as 10000 soldate nog nie betaal vir hul WB-diens


Meer as 10000 soldate nog nie betaal vir hul WB-diens
2010-10-21 03:59
Erika Gibson

Pretoria - Die deurmekaarspul met die betaling van soldate vir hul diens tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi raak al erger.

Die weermag gee ondanks herhaalde navrae geen antwoorde oor die uitbetaling van nagenoeg R242miljoen aan spesiale toelaes nie. Die meer as 10000 soldate wag steeds vir hul geld nadat die polisie verlede maand reeds hul toelaes ontvang het.

Die ministerie van verdediging het kort voor die toernooi aangekondig dat soldate dieselfde verhoogde unieke toelaes as hul eweknieë in die polisie sal ontvang, oftewel R720 per dag.

Dit sou ’n ongerieftoelae van R80 per dag ingesluit het. In die meeste gevalle is dié ongerieftoelae vooruit aan soldate uitbetaal.

Daar is intussen vasgestel dat die bedrag sedertdien tot R560 per dag verminder is en dat die R80 per dag, wat vooruitbetaal is, nou ook van soldate se salarisse verhaal gaan word.

Vir ’n junior soldaat, wat verwag het om sowat R31000 vir tussen 44 en 52 dae aan toelaes te verdien, beteken dit nagenoeg R8000 minder, terwyl belasting ook nog op die toelaes verhaal moet word.

Na verneem word is die vertraging met die uitbetaling deels aan ’n begrotingstekort te wyte. Terselfdertyd moes naamlyste eers geoudit word. Dié oudit is intussen afgehandel, maar die uitbetalings sal waarskynlik op die vroegste eers in November op soldate se salarisstrokies verskyn.

Die weermag se totale uitgawes vir die WB-toernooi het sowat R365miljoen beloop, terwyl hy slegs R200miljoen bykomend tot sy begroting ontvang het. Die res van die geld moes elders op die begroting gevind word.

Soldate het reeds met protesoptrede gedreig as die toelaes nie gou uitbetaal word nie.


- Die Burger

No comments:

Post a Comment