Wednesday, October 6, 2010

Polisie kla oor minder dae rus, moeiliker siekteverlof


Polisie kla oor minder dae rus, moeiliker siekteverlof
2010-10-06 00:20
Artikelopsies
Druk artikel e-pos artikel Deel
Yahoo Google Digg del.icio.us Facebook Twitter Kry Beeld op
Jou selfoon Jou Facebook-profiel Gloria Edwards
Dis moeiliker om siekteverlof te kry, hul rusdae word verminder en hulle sal gearresteer word as daar ’n rooftog in hul gebied is.

Dit is van die klagtes van Johannesburgse polisiebeamptes wat deur die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu) bekyk word.

Mnr. Alfred Tlou, onderhandelingsbeampte van Sapu, het gister bevestig hulle het bewerings van “onverdraagsame werkomstandighede” van beamptes “by verskeie polisiekantore in Johannesburg” ontvang.

Dié veranderings is sedert die aanstelling van die nuwe Gautengse polisiehoof, lt.genl. Mzwandile Petros, volgens beamptes “onregverdig en onregmatig” in werking gestel.

Verskeie senior polisiebeamptes van die Johannesburg-Sentraal-polisiekantoor het ook by Beeld gekla oor rusdae wat glo onregmatig verminder is en skofruilveranderings wat beamptes glo op straat gestrand laat.

Volgens Tlou het Sapu verlede week ’n spesiale vergadering oor die bewerings gehou en die unie sal binnekort met Petros vergader.

Die beamptes beweer hulle is meegedeel “indien ons nie met dié veranderings tevrede is nie, ons moet bedank”. “As ons siekteverlof wil neem, moet ons eers ingaan kantoor toe, al het jy ’n doktersbrief, dan sal die base (bevelvoerders) besluit of ons wél siek is.”

Veranderings aan werkure is glo strydig met arbeidswetgewing en die polisie se beleid oor werkure.

“Ons kry net twee rusdae in twee weke,” het ’n beampte gesê.

Skofruiling moet nou glo op straat plaasvind. “Die lede aan diens neem die voertuig oor, so die lede wat van diens gaan, moet self by die kantoor of huis uitkom,” het nog ’n beampte gesê.

Die beamptes beweer hulle word ook gedreig dat hulle sélf in hegtenis geneem sal word indien daar ’n gewapende rooftog plaasvind in die gebied waar hulle aan diens was.

Dié beamptes meen Petros, wat onlangs gesê het daar is geen plek vir korrupte of lui polisiebeamptes nie, het goeie bedoelings.

“Dis die stasiebevelvoerders wat nie weet hoe om sy nuwe plan te hanteer nie. Nou word daar onregverdige druk op lede geplaas,” het ’n vrouelid gesê.

Intussen het verskeie Pretoriase polisielede gesê Petros se nuwe werkbeleid word misverstaan, berig Hilda Fourie.

“Die siekteverlofkwessie gaan oor kansvatters wat beter bestuur moet word. Petros se bedoeling is dat skofruiling so vinnig moontlik plaasvind. Tydens skofruilings is minder polisielede op straat en misdadigers waag dan hul kans,” het ’n senior polisielid gesê.

Kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die bewerings word bekyk.

( Beeld )

No comments:

Post a Comment