Saturday, October 9, 2010

Polisielid dobbel R150 000 op ’n slag uit, hoor die hof







Polisielid dobbel R150 000 op ’n slag uit, hoor die hof
2010-10-08 22:04
Artikelopsies
Amanda Roestoff
’n Polisieman wat in die hooggeregshof in Johannesburg op 13 aanklagte teregstaan, het by een geleentheid R150 000 in ’n casino uitgedobbel en net R5 568 gewen.

Dié getuienis van mnr. Clement Khumalo, ’n werknemer van die Gold Reef City-casino, is gister deur dié polisieman ontken.

Adv. Nardus Grové, vir lt.kol. Dumisani Jwara, kapt. Victor Mpho Jwili en ao. Rasheki Lan-dro Makgosani, almal geskorste lede van die Wes-Randse eenheid teen georganiseerde misdaad, het gesê Makgosani stem nie saam met Khumalo se getuienis dat hy in Oktober 2007 in dié casino begin dobbel het nie.

“Hy dobbel al jare lank en het nie eers in Oktober 2007 begin dobbel nie,” het Grové gesê.

Die drie mans staan tereg op aanklagte wat wissel van regsverydeling, diefstal, bedrog, dwelmhandel, dwarsboming van die gereg en aanklagte wat verband hou met die bedryf en bestuur van ’n onderneming wat op ’n patroon van afpersing dui.

’n Vierde beskuldigde, kapt. Caiphius Sakhephi Shange (43), is in Julie 2009 in polisie-aanhouding dood.

“Ons het net besonderhede van hom (Makgosani) in die stelsel,” het Khumalo voor regter Nico Coetzee getuig.

“As iemand anoniem wil bly, kan hy van die muntstuk-stelsel gebruik maak,” het Khumalo gesê toe hy getuig het Makgosani het op 17 Oktober 2007 by die casino vir ’n dobbelkaart geregistreer. Hulle word juis daarvan beskuldig dat hulle in daardie maand dwelms op die O.R. Tambo-lughawe gekonfiskeer het om aan dwelmhandelaars te verkoop.

Adv. Michelle Bayat, die aanklaer, het ook die getuienis van mnr. Ronald Mbedzi, ’n werknemer van die Silverstar Casino buite Krugersdorp. gelei.

Mbedzi het getuig Makgosani het by een geleentheid tot R79 000 verloor.

Grové het tydens kruisondervraging aan Mbedzi gesê Ma-kgosani ontken dit en “kan onthou dat hy in ’n stadium tot R24 000 gewen het, wat nie op die casino se rekord weerspieël word nie”.

Mbedzi het volgehou die casino se rekord “weerspieël alles ... van die eerste dag dat hy begin dobbel het tot die laaste dag dat hy by ons was”.

Die verhoor word Maandag voortgesit. Al drie beskuldigdes is uit op borgtog. Al drie is sonder betaling geskors.

( Beeld )

No comments:

Post a Comment