Saturday, October 9, 2010

7 rowers afgemaai


7 rowers afgemaai
2010-10-08 21:45
Artikelopsies
Vier vermeende transitorowers is uit dié Nissan Tiida geslinger toe dit tydens ’n skietgeveg met die polisie gerol het. Foto: Die Zoutpansberger


Jinine Botha
Die polisie het sewe mans wat vermoedelik op pad was om ’n transitorooftog uit te voer gisteroggend in die noorde van Limpopo doodgeskiet.

Twee polisielede is in die skietgeveg gewond.

Talle koeëldoppies het tussen die vermeende transitorowers se lyke, met klapmusse en wolhandskoene aan, op die stil teerpad sowat 30 km van Louis Trichardt gelê.

Lt.kol. Ronél Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het inligting oor ’n beplande transitorooftog ontvang.

Daarna het beamptes die rowers op strategiese plekke op die Elim-pad, sowat 3 km van die N1, ingewag. Nadat die gepantserde geldwa veilig verby die polisielede op die pad gery het, het die drie voertuie – ’n Volvo, BMW en Nissan Tiida – waarvoor die polisie op die uitkyk was, daar verbygekom.

“Polisielede wou die voertuie stop toe die verdagtes skielik skote in die polisie se rigting afvuur,” het Otto gesê.

Die vermeende rowers het probeer vlug en in ’n oor-en-weer-skietery met die polisie betrokke geraak.

“Tydens die skietery het die Nissan gerol.

“Twee van die verdagtes het op die pad uitgeval waarna die Nissan langs die pad tot stilstand gekom het.

“’n Derde verdagte is doodgeskiet terwyl hy te voet probeer ontsnap het nadat die voertuig tot stilstand gekom het.”

Die vierde man is ook uit dié motor geslinger.

Nooddiensbeamptes het hom daar behandel.

“Hy is later met ernstige beserings na die naaste staatshospitaal geneem.”

Polisielede het die BMW sowat 1 km van die Tiida tot stilstand gedwing. Al vier insittendes is doodgeskiet.

“Ons vermoed dat nog vier rowers tydens die skietery in die Volvo ontsnap het,” het Otto gesê.

Een polisielid is tydens die skietgeveg in die been gewond en een in die arm.

Volgens Otto is vyf vuurwapens teen gistermiddag op die toneel gevind.

“Daar is ook hoekslypers en gasbottels in die verdagtes se voertuie ontdek.”

Genl.maj. Christine Mgwenya, waarnemende nasionale polisiehoof, het die polisielede geloof vir hul flink optrede om dié potensiële misdadigers te stuit.

Só loop transitorowers deur


8 November 2009: Die polisie skiet sewe ge­wapende mans by ’n veiligheidsmaatskappy se geld­de­pot in Polokwane dood nadat hulle ’n wenk oor die beplande misdaad gekry het.
22 November 2007: Vier vermeende transitorowers en ’n polisieman sterf toe nege rowers ’n Coin-geldwa naby Eeufeesweg in Pretoria wil beroof.
13 Desember 2007: Die polisie skiet 11 transi­torowers

No comments:

Post a Comment