Sunday, October 3, 2010

Polisie skop en dreig, sê Ratte, nog 9

2010-10-01 23:09

Van die wapens waarop beslag gele is, is by die Witbank-polisiekantoor aan die media gewys. Foto: DAILY SUN

Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's

Die polisie het met die arrestasie van oud-kmdt. Willem Ratte en nog nege mans na bewering met geweld gedreig en een van die mans geskop.

Ratte (62) en die nege – hoofsaaklik jong mans wat aan ’n gastehuis op die plaas Eenzaamheid by Balmoral bou – is eergistermiddag daar gearresteer.

’n Dringende aansoek om hul vrylating uit die polisieselle in eMalahleni (Witbank) word vandag 10:00 in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Die polisie verdink hulle van terrorisme en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die groep wou hul aansoek gister aangehoor hê, maar dit is na vandag voor waarnemende regter Pieter van der Byl uitgestel sodat die polisie hofstukke kon voorberei.

Die groep is Ratte, ’n oud-verkenningsoldaat en bekende in regse kringe, en mnre. Eugene Becker (48), Justin Schoeman (18), Günther Kotze (32), Corné de Beer (22), Petrus Visser (20), Marais Bouwer (30), Raymond Senekal (43), Wesley Borman (24) en Christopher Meyer (27).

Mnr. D.H. Mostert, hul prokureur, sê in hofstukke die gronde vir die aansoek is dat geen lasbrief vir deursoeking of arrestasie aan enige applikant getoon of ’n amptelike arrestasie uitgevoer is nie.

Ratte, van Pretoria, sê in ’n verklaring hy is Donderdag na die plaas om na die nuwe gastehuis se bouery te kyk en boumateriaal af te laai.

’n Klomp polisievoertuie het ingery “en meer as tien polisiemanne hardloop op koshuis toe”. Ná ’n ruk het hy ’n “rumoer” by die koshuis gehoor.

Becker het daar op die grond gelê en Meyer en Borman het met hul hande teen die muur gestaan, “met polisiemanne wat wapens op hulle rig”. De Beer, Visser en Bouwer was ook op die grond.

“Ek het niks onwettigs by my gehad nie en ek weet niks van wat die polisie sê hulle daar gekry het nie,” sê Ratte.

Schoeman sê in ’n verklaring hy is op die vloer “neergegooi”. Hy is dam toe geneem en gedreig “dat as ek nie inligting gee nie, gaan hul geweld gebruik”.

Becker sê in ’n verklaring sy gelisensieerde haelgeweer is gekonfiskeer.

Luidens Kotze se verklaring is ’n swartkruit-rewolwer in sy kamer gevind.

De Beer sê in sy verklaring toe hy die polisie vra wat aangaan, “toe skop hulle my op my rug en op my nek en sê ek hoef nie te weet nie”.

Visser se verklaring lui: “Ek dink dis onregverdig om my aan te kla van terrorisme of die besit van wapens.”

Hulle word sonder kos, behoorlike toiletgeriewe en drinkwater aangehou, sê Meyer.


Mnr. Willem Ratte (62) klim gister op die plaas Eenzaamheid in ’n polisievoertuig. Die polisie het hom gister na die plaas gebring.
Foto: Nelius rademan


’n Ou Suid-Afrikaanse lugmagpet, patroondoppies en ’n boek oor Indiese kookkuns lê op ’n tafel in ’n gebou op die plaas Eenzaamheid by Balmoral waar die polisie gister hul ondersoek voortgesit het.
Foto: NELIUS RADEMAN


Polisiebeamptes by ’n kis wat hulle in mnr. Willem Ratte se huis op die plaas gevind het. Ratte en nog nege mans is Donderdag op die plaas in hegtenis geneem.
Foto: NELIUS RADEMAN

No comments:

Post a Comment