Sunday, October 3, 2010

Verwaarloosde kinders gevat !

‘Ashoop’-kinders gevat

2010-10-02 20:50

’n Enkele e-pos met foto’s van twee vuilgesig en “verwaarloosde” kinders wat skenkings vir die kinders vra, het soos ’n veldbrand oor die land heen versprei en die hulp laat instroom.

Maar ’n herrie het ontstaan nadat die kinders uit hul ouers, *mnr. Johan (43) en me. Karin Bester (31), se sorg verwyder en die boodskap se inhoud as lasterlik bestempel is.

In die e-pos word foto’s van ’n blonde driejarige meisietjie en haar sesjarige boetie gesirkuleer en die boodskap daarby lui dat hulle op ’n vullishoop deur ’n vrou van die DBV gevind is wat vir wilde honde daar gaan kos gee het.

Die ouers word as heroïenverslaafdes beskryf en enigiemand wat ’n skenking wil maak, kan vir “Vicky” skakel.

Die ouers hou vol dat die skenkings bloot uit “geldgierigheid” gevra is en dat die foto’s van die kinders sonder hul toestemming gebruik is.

Maar volgens me. Vicky Finnemore, bestuurder van die Brakpanse DBV, het sy die veldtog met die beste bedoelings van stapel gestuur en glad nie gedink ander mense sou die feite so verdraai nie.

“Toe ek dit besef, het ek die boodskap probeer herroep en my vriende en familie gevra om dieselfde te doen, maar die skade was reeds gedoen.”

Finnemore sê hulle het wel die kinders in ’n “uiters verwaarloosde toestand” gevind, maar bevestig dat dit in die ouers se sorg by hul bouvallige mynhuis in Brakpan was nadat die gesin hulp met hul troeteldiere gevra het.

“Dit was tydens die staatsdiensstaking. Ons het nie dadelik hulp van maatskaplike dienste gekry nie en het geen ander manier gehad om die gesin by te staan nie.”

Die oortollige skenkings sal nie vir hul eie gewin gaan nie, maar aan ander hulpbehoewende kinders geskenk word, het Finnemore verseker.

Die twee kinders en hul negejarige boetie is intussen deur die kinderhof uit hul ouers se sorg verwyder. Met Rapport se besoek aan die ouers se woonplek was daar reeds tekens dat hulle probeer om hul omstandighede te verbeter en daar was geen teken van dwelmmisbruik nie.

Sowat agt mense bly saam in die uiters verwaarloosde bouval met geen elektrisiteit of warm water nie. Hulle maak geld deur los werkies in die omgewing te doen en kry soms skenkings van mense.

Johan het sy werk as ketelmaker verloor nadat hy ’n besering opgedoen het.

“Ons voer dalk ’n plakkersbestaan, maar dit gaan beter met ons as met baie ander. Ons is ontsettend lief vir ons kinders,” sê Johan.

Die foto’s is volgens die ouers geneem nadat die kinders die hele dag buite gespeel het en daarom lyk hulle so gehawend.

Volgens me. Maxine Finnemore, Vicky se suster en kollega, het die ouers toestemming gegee dat die foto’s geneem mag word, maar nie spesifiek vir e-pos-doeleindes nie.

“Ons het nie geweet dit kan teen die wet wees nie en het net probeer om die regte ding te doen.”

Die ouers beplan om verdere regstappe te neem, maar volgens me. Carina du Toit van die Sentrum vir Kinderregte is daar weinig wat die ouers kan doen.

“Die foto’s is gepubliseer vóór die kinders in die sorgstelsel was en slegs die staat sou ’n strafregtelike klag kon indien omdat hul identiteite nie bekend gemaak mag word terwyl hulle in die staat se sorg is nie.” Sy voel tog dat die Finnemores meer bedagsaam en sensitief moes opgetree het.

Dit sou baie moeilik wees vir die ouers om ’n lasterklag in te dien omdat die verantwoordelike persoon nie maklik vasgestel kan word nie.

*Skuilname

- Rapport

No comments:

Post a Comment