Tuesday, October 5, 2010

Hoogverraad-aanklag kom dalk


Hoogverraad-aanklag kom dalk
2010-10-05

Oud-kmdt. Willem Ratte (62) en sy nege medeverdagtes kan moontlik van hoogverraad aangekla word, hoewel die staat in ’n verklaring sê ’n misdaad “is nog nie gepleeg nie”.

Die tien mans se regspan het gister ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria gebring vir hul vrylating en die staat het dit teengestaan.

Regter George Webster lewer môreoggend uitspraak.

Die tien sê hulle is deur die polisie ontvoer en onregmatig en sonder lasbriewe gearresteer.

Hulle is Donderdag van die plaas Eenzaamheid by Balmoral na die Witbank-polisieselle geneem. Ao. Julius Mahlangu, die arresterende beampte, sê in ’n verklaring voor die hof hulle is gearresteer vir “besit van dagga, 5 516 patrone van verskillende soorte vuurwapens en vuurwapens wat semi-outomatiese vuurwapens insluit, met die moontlikheid van bykomende klagte teen hulle”.

Hy lys 12 wapens in sy verklaring.

Volgens dié lys behoort een van die gewere aan mev. Leandri du Plessis van Polokwane en een aan mnr. Lohan Reyneke van Kaapstad.

’n Hond het die polisie gelei na ’n dam “waarin ’n daggaplantasie gevind is”.

“Die rede vir (die mans) se arrestasie is nie terrorisme nie en nie een van hulle is van terrorisme aangekla nie. Met finalisering van die ondersoek kan hulle van hoogverraad aangekla word.”

Mahlangu sê as die tien se aansoek toegestaan word, sal die staat se veiligheid in gevaar wees en is daar “enorme getuienis vir die
rede” vir hul arrestasie.

Hy sê hy het inligting ontvang van ’n informant dat mense militêre opleiding kry op ’n plaas by Balmoral “en dat hulle beplan om die regering omver te werp”.

Mahlangu sê “dit moet ook genoteer word dat die misdaad nog nie gepleeg is nie, maar ek het inligting ontvang dat ’n onwettige aktiwiteit op die plaas plaasvind”.

Adv. Johan van Wyk, namens die tien, het in die hof gesê ’n dringende aansoek is die enigste uitweg. ’n Aansoek om borgtog is nie ’n uitweg nie. Hy het gesê militêre opleiding is nie ’n misdaad nie, “veral as jy nie weet wat die aard daarvan is nie”.

Oor die bewering van ’n plan om die regering omver te werp, het hy gesê ’n blote voorneme om dit te doen, stel nie misdaadpleging daar nie.

Daar is geen aanduiding van wie by so ’n plan betrokke is en vir waar en wanneer ’n sameswering sou wees nie.

Van Wyk het gesê vyf van die 12 wapens op die lys is windbukse en twee swartkruitwapens waarvoor lisensies nie nodig is nie.
Ratte het in ’n verklaring gesê: “Ek staan verstom oor die bewering dat die staat se veiligheid enigsins ter sprake kom.”

( Beeld )

No comments:

Post a Comment