Tuesday, June 15, 2010

Cele waarsku rampokkers in die polisie




Daniëlla du Plooy
Polisielede moet kies wat hulle wil wees – helde of rampokkers.

So het genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, gister by die militêre begrafnis van sers. Gert du Toit (34) in Johannesburg gesê.

Transitorowers het Du Toit, ’n lid van die K9-eenheid (die voormalige honde-eenheid) in Johannesburg, verlede Saterdag in Protea-Suid, Soweto, doodgeskiet.

Cele het aan die familie van Du Toit, of Toitjie soos hy onder kollegas bekend was, gesê hulle kan trots wees op hom.

“Julle kan vandag regop uit dié kerk stap. Hy het gesterf vir dít waarin hy geglo het.”

Die NG kerk in Forest Hill, in die suide van Johannesburg, was stampvol. Ná die diens is ’n optog voor die kerk gehou.

Die orkes en lede van die K9-eenheid het in gelid agter die kis geloop.

Cele het gesê hy is bekommerd oor polisielede wat “self besig is om vrot te word”.

“Ons moet daarteen waak om bedags en snags twee verskillende mense te wees.”

Hy het verwys na R5-aanvalsgewere wat op die misdaadtoneel gevind is.

“Daar is net een organisasie wat dié wapens gebruik, en dit is die SAPD.

“Julle moet kies wat julle wil wees,” het hy aan polisie­lede gesê.

“Moenie saam met ons hardloop, maar saam met hulle jag nie.”

Volgens hom word eerbare polisielede dikwels van oorlogpraatjies beskuldig, maar ’n oorlog is reeds teen húlle verklaar.

Cele het uitgevaar teen “diegene wat die polisie vanuit hul lugverkoelde kantore” kritiseer.

“Akademici en analiste is nie vandag hier nie. Hulle verstaan nie waardeur ons gaan nie.

“Die misdadigers het oorlog teen ons verklaar.

“Ja, ons werk is eers­tens om mense te arresteer, maar indien ons dít doen en die situasie stel ons lewens in gevaar, moet ons terugveg.”

Volgens Cele kan ander mense die polisie “maar ‘trigger-happy ’ noem”.

“Die waarheid is daar is vandag ’n klein meisietjie wie se lewe sonder ’n pa voor haar lê.”

Du Toit laat onder andere sy vrou, Alicia, en stiefdogter, Caitlan (6), agter.

Cele het gesê hy was by die Protea-polisiekantoor kort nadat verdagtes in verband met die moord op Du Toit in hegtenis geneem is.

“Daar was toe daar reeds ’n prokureur by die polisiekantoor om die verdagtes te verteenwoordig en hul menseregte te beskerm.

Maar miskien is ons te toegeeflik met hierdie ‘menseregte’,” het Cele gesê. “Geen reg is immers groter as die reg op menslike lewe nie.”

Een van drie verdagtes wat weens Du Toit se moord vasgetrek is, het verlede week vlugtig in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

Die saak teen dié verdagte van Vereeniging wat glo as veiligheidswag vir Protea Coin gewerk het, is tot 24 Junie uitgestel.

Die moontlikheid word nie uitgesluit nie dat polisielede deel was van die groep van byna 15 transitorowers wat vir Du Toit se dood verantwoordelik is.

( Beeld )

No comments:

Post a Comment