Thursday, June 17, 2010

Sexy rokkies het vroue in sop











Sexy rokkies het vroue in sop




2010-06-17 00:12


Mee. Barbara Castelein en Mirte Nieuwpoort eergister buite Soccer City in die rokkies wat die herrie veroorsaak het. Hulle is gister in hegtenis geneem.Foto: ap
Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Daniëlla du Plooy
Johannesburg
Twee van die Nederlandse vroue wat in skrapse oranje Bavaria-rokkies – ’n bierhandelsmerk wat nié ’n amptelike borg van die Wêreldbeker-sokkertoernooi is nie – by ’n sokkerwedstryd opgedaag het, is voor die hof gesleep.
Hulle het eers gisteroggend by ’n polisiekantoor deurgebring voordat hulle in die Johannesburgse landdroshof verskyn het.
Dít ten spyte van Fifa se ontkenning dat die vroue aangekla word.
Die vroue moes elk R10000 borgtog betaal om vrygelaat te word, wat Bavaria glo namens hulle gedoen het.
Die blonde mee. Mirte Nieuwpoort (30) en Barbara Castelein (29) was deel van ’n groep van meer as 30 vroue wat sexy oranje rokkies gedra het tydens Maandag se wedstryd in Soccer City tussen Nederland en Denemarke.
Die polisie het die twee gisteroggend douvoordag wakker gemaak en aangehou.
Hul uitrustings is ’n simbool van ’n advertensieveldtog van die Nederlandse brouery Bavaria, berig Retha Grobbelaar.
Die Amerikaanse bier Budweiser is ’n borg van die sokkertoernooi en Bavaria word dus as ’n mededinger vir Budweiser beskou.
Fifa maak miljarde rande uit sy bemarkingsprogram en het daarom baie streng reëls daaroor. Die reëls beskerm amptelike borge se reg om hul verbintenis met die toernooi vir reklame-doeleindes te gebruik.
Ander maatskappye wat die indruk probeer skep dat hulle iets met die WB-toernooi te make het, word deur Fifa as “hindernisbemarkers” bestempel.
Mnr. Nicolas Maingot, Fifa-woordvoerder, het gesê die Suid-Afrikaanse polisie ondersoek ’n saak teen die betrokke maatskappy.
“Fifa het ’n span kenners wat na hindernis-bemarking kyk. Hulle trek die streep oor wat hindernisbemarking is en wat net iemand is wat ’n T-hemp aan het met ’n handelsmerk op,” het hy vroeër gesê.
Hoewel Fifa gesê het geen klagte is teen die vroue aanhangig gemaak nie, het hulle gister vlugtig in die Johannesburgse landdroshof (in ’n spesiale tydelike WB 2010-hof) verskyn.
Die saak is tot 22 Junie uitgestel.
Me. Debbie Zin, staatsaanklaer, het gesê die vroue word aangekla van ’n oortreding van die Wet op Bemarking en 2010 Fifa-regulasies.
Leopoldt Scholtz berig die Nederlandse regering het gister amptelik teen die vroue se aanhouding beswaar gemaak en sou selfs gister by Suid-Afrika se ambassadeur daaroor kla.
Die hele affêre het groot aandag in die Nederlandse media getrek en al wat ’n koerant, televisie- of radiostasie is, het uitgebreid aandag daaraan gegee.
Die twee meisies word ook op konsulêre vlak in Johannesburg bygestaan, luidens die verklaring.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment