Sunday, June 6, 2010

Korrektiewe dienste moet pa staan vir moord op ET’




Korrektiewe dienste moet pa staan vir moord op ET’


2010-06-06 00:25

HERMAN SCHOLTZ IN PRETORIA


Mnr. Eugène Terre’Blanche se dood kan moontlik deels voor die deur van laks staatsamptenare gelê word. Rapport kan vandag onthul dat die 15-jarige vermeende moordenaar ingevolge ’n hofbevel onder huisarres moes gewees het toe die AWB-leier se kop op 3 April met ’n staalpyp verbrysel is. Die seun was egter nie, en daarna het amptenare van die departement van korrektiewe dienste (DKD) klaarblyklik dié versuim probeer toesmeer.Die seun is op 14 April stil-stil onder korrektiewe toesig geplaas – nadat hy reeds in aanhouding was weens die moord op Terre’Blanche. Twee amptenare van korrektiewe dienste is reeds geskors.Adv. Menzi Simelane, nasionale direkteur van openbare vervolgings, het reeds tydens die jeugdige se eerste hofverskyning buite die hof gesê hy het ’n vorige veroordeling. Simelane het toe dadelik teruggekrabbel deur te sê dit moet nog bevestig word. Die Ventersdorp-landdroshof het in Februarie gelas dat die kind vanaf 3 Maart vanjaar onder huisarres geplaas en konstant gemonitor word. Dié vonnis is opgelê omdat hy vroeër by ’n huis ingebreek en gesteel het. Hy is tot nege maande tronkstraf gevonnis wat opgeskort is vir vyf jaar. Daarbenewens is hy tot 12 maande korrektiewe toesig gevonnis met die doel om hom te rehabiliteer en hom teen homself en die samelewing te beskerm. Niemand het egter ag geslaan op dié bevel nie. Rapport verneem die seun het hom op 3 Maart by die landdroshof aangemeld om opgeneem te word, maar dat DKD dit om die een of ander rede nie gedoen het nie. Nou wil die gemeenskap antwoorde hê. Mnr. Nantes Kelder, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het aan Rapport gesê Afri­Forum gaan ’n brief aan DKD skryf om antwoorde te kry en verantwoording te eis. AfriForum sal die hof nader indien hulle nie antwoorde kry nie, sê Kelder.Hy meen die stelsel het die soveelste keer gefaal – dié keer vir Terre’Blanche én die kind.“Dié moord kon voorkom (mits die kind wel betrokke was, soos beweer) gewees het.“Ons sit met verskeie sake waar die beskuldigdes vrygelaat is op borgtog of parool wanneer hulle weer misdade pleeg. Iemand moet verantwoordelikheid aanvaar.” AfriForum is ook in verbinding met die regsverteenwoordiger van die Terre’Blanche-familie, sê Kelder. “Die uiteindelike besluit of hulle ’n siviele eis teen die departement wil indien, lê by hulle.” Mnr. Zola Majavu, die minder­jarige se prokureur, het vroeër hul beplande borgtogaansoek laat vaar waarin inligting oor vorige veroordelings volgens wet openbaargemaak sou moes word. Die kind is in ’n plek van veiligheid waar hy goeie kos, ’n warm bed en toegang tot TV het wat hy nie andersins sou hê nie, het Majavu gesê. DKD het teen die einde van die afgelope week antwoorde op Rapport se vrae voorberei wat eers deur die nasionale woordvoerder “goedgekeur” moes word.Teen druktyd is dié antwoorde nog nie ontvang nie.

No comments:

Post a Comment