Wednesday, June 2, 2010

Polisiemanne dalk by rooftog by geldstoor betrokke





Buks Viljoen
Polisiemanne was dalk eergister betrokke by ’n mislukte poging om in te breek by ’n geldstoor van G4-sekuriteit (G4S) in Witbank.Dit blyk nadat ’n R5-geweer en Z88-pistool wat blykbaar aan die polisie behoort op die rooftoneel opgetel is én een van die rowers ’n koeëlvaste polisiebaadjie aangehad het.’n Skietery het eergisteroggend omstreeks 00:20 by die G4S-perseel aan die buitewyke van Witbank ontstaan nadat die polisie ’n bende van 20 rowers op heterdaad betrap het.’n Hekwag van G4S se veiligheidskompleks is ’n rukkie ná die rooftog ook gearresteer nadat die polisie op beeldmateriaal van veiligheidskameras gesien het hoe hy die hek vir die rowers oopmaak.Op die beeldmateriaal kan gesien word hoe hy saam met die rowers by die gebou rondloop en plekke aan hulle uitwys.Die rowers het met ’n leer tot op die dak geklim.Hulle was besig om deur die dak in te breek toe ’n hoewebewoner naby die veiligheidskompleks die inbrekers op die gebou se dak sien rondloop het.Sy het die polisie gebel. Toe die polisie daar aankom, het die rowers op die dak op die polisielede losgebrand.’n Skietgeveg het nagenoeg 20 minute geduur voordat die rowers aan die gebou se agterkant ontsnap het, het kapt. Eddie Hall gesê.Volgens Hall het een van die polisiemanne tydens die skietery ’n rower met ’n koeëlvaste baadjie van die polisie tussen die ander rowers gesien.Die rowers het in drie voertuie sonder nommerplate van die toneel af gevlug. Die voertuie, ’n wit Mercedes-Benz, ’n wit Toyota Corolla en groen BMW, is steeds soek.Sowat 100 koeëldoppies is op die toneel opgetel, asook hoekslypers, breekysters en ander toerusting wat tydens inbrake gebruik word.


( Beeld )

No comments:

Post a Comment