Wednesday, June 16, 2010

Chinese joernaliste beroof


Chinese joernaliste beroof

2010-06-15 22:21
Buks Viljoen
Nelspruit. – Drie verdagtes is gister buite die stad aangekeer nadat vier Chinese, onder wie drie joernaliste, vroeër die oggend die slagoffers van ’n gewapende rooftog was.Die Chinese het omstreeks 01:00 by die Mark Mountain-gastehuis by The Rest net buite Nelspruit aangekom.The Rest loop die laaste paar maande onder ’n vlaag van inbrake en gewapende aanvalle deur.Die Chinese was pas in die bed toe die twee aanvallers ’n klip deur die slaapkamer se venster gooi. Die rowers het die ruit uitgeskop en daardeur by die kamer ingeklim.Hulle het die vier mans gedwing om op die vloer te lê en met ’n pistool aangehou terwyl hulle die kamer deursoek het.Agt selfone, twee skootrekenaars, twee duur digitale kameras en ’n sak met al hul persoonlike besittings en duisende rande kontant daarin is gebuit.Die rowers het blykbaar ’n gat onderdeur die elektriese heining om die gastehuis gegrawe. Beeld het betroubaar verneem die polisie ondersoek die moontlikheid dat ’n personeellid van die gastehuis moontlik inligting oor die Chinese gaste aan die rowers verskaf het.Die drie joernaliste werk vir China Network Television (CNTV), die grootste TV-sportkanaal in China.Die vierde man is ’n vriend wat glo in Potchefstroom bly. Hy het blykbaar as tolk vir die groep opgetree.Die verslagspan het net meer as ’n week gelede in Nelspruit aangekom en sou tot die einde van WB 2010 hier bly.Hulle sou môre dekking aan die wedstryd tussen Chili en Honduras in die Mbombela-stadion in Nelspruit gee.Mnr. Albert Gryvenstein van Bossies Justice, ’n private veiligheidsinisiatief, was een van die eerste mense op die toneel. “Die Chinese het nie seergekry nie, maar was baie geskok.”Die polisie het ná die rooftog klopjagte op verskeie kampongs op plase naby die gastehuis uitgevoer.Drie verdagtes is daar aangekeer.By een van die kampongs is op ’n groot aantal selfone, rekenaars, TV’s en ander elektroniese toerusting beslag gelê.Teen druktyd was daar nog nie sekerheid of die Chinese se toerusting onder die teruggevinde items was nie.Die polisie vermoed volgens kapt. Leonard Hlathi, woordvoerder, van die gesteelde goedere is tydens ander inbrake in die omgewing gebuit.Saterdag is ’n Indiese toeris van ’n skootrekenaar en ’n klein bedrag geld besteel toe hy sy sak met dié items in op ’n bankie by die Nelson Mandela-plein in Sandton gelos het. Volgens kol. Eugene Opperman, polisiewoordvoerder in Gauteng, het die man sy sak sonder toesig gelos en toe hy terugkeer, was dit weg. “Dit kon enige plek in die wêreld gebeur het. Ons het mense gewaarsku om hul besittings nie sonder toesig te laat nie,” het Opperman gesê.

No comments:

Post a Comment