Wednesday, June 23, 2010

GPS keer kopskoot


GPS keer kopskoot
2010-06-22 23:33



Mnr. JJ Strydom van Rietfontein in Pretoria wys waar ’n motorkaper se koeël sy GPS getref het voordat dit deur die windskerm is.Foto: Wayne Coetzee

Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's
Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's


Virginia Keppler
'n Man van Rietfontein in Pretoria het eergistermiddag ’n kopskoot vrygespring toe hy ’n kaper se pistool weggeklap en met sy bakkie weggejaag het.

Die skoot het afgegaan en die koeël wat waarskynlik vir mnr. JJ Strydom (30) se kop bestem was, het eers sy GPS getref voordat dit deur die dubbelkajuit- Ford Ranger se voorruit is.

Hy het daarna onder ’n koeëlreën uit Mamelodi, in die ooste van Pretoria, weggejaag sodat hy nie “flenters” geskiet word nie.

Strydom was in Mamelodi om ’n voertuig te gaan waardeer toe die voorval omstreeks 14:30 gebeur het. Hy het vertel hy het iewers in die ooste van dié woonbuurt by ’n stopteken stilgehou toe hy aangeval is.

“My bakkie se venster was oop en die volgende oomblik het iemand ’n pistool teen my kop gedruk en my deur probeer oopmaak. Ek het eers my hande in die lug gehou, maar toe hy nog met die deur peuter, het ek sy hand met die wapen van my af weggeklap waarna ’n skoot afgegaan het.

“Ek het my bakkie gelukkig in eerste rat gehad en kon onmiddellik wegjaag. Nog skote het agter my geklap, maar ek het net aanhou ry totdat ek op die ou Cullinan-pad, oos van Pretoria, uitgekom het.

“Daar het ek gesien nog twee koeëls het my bakkie getref – teen die regteragterdeur en deur die bakflap,” het Strydom gesê.

Hy het daarna reguit huis toe gery en het gister eers ’n klag by die Moot-polisiekantoor aanhangig gaan maak.

“Ek het groot geskrik. Ek is net bly ek is oukei.”

Dit is nie die eerste keer dat hy onder motorkapers deurloop nie.

“In 2004 is ek in Mamelodi gekaap en die kapers het my met ’n geweer agter die kop geslaan voordat hulle my selfoon, gordel, horlosie, al my persoonlike besittings en my motor gesteel het. Hulle het my daarna tussen plakkershutte in Mamelodi afgelaai.”

Sy pa, mnr. Johan Strydom sr. (64), is vier maande gelede in Nelspruit oor die kop geslaan en gekaap. Die polisie het die voertuig kort daarna teruggekry.

Strydom jr. se broer, Jaco (32), is verlede Oktober in Hatfield gekaap. “Hulle het hom ook gedwing om geld uit sy rekening te trek en met hom in die kattebak rondgery voordat hulle hom uitgegooi het en met sy BMW verdwyn het.”

Die polisie ondersoek volgens sers. Lynnette Erasmus, woordvoerder, ’n klag van poging tot motorkaping.

No comments:

Post a Comment