Wednesday, June 16, 2010

Saldanha ‘is hel oor korrupte offisier’


Saldanha ‘is hel oor korrupte offisier

’2010-06-16 01:35
Pretoria
Die departement van verdediging sien aantygings van rassisme, bedrog en korrupsie by die Militêre Akademie op Saldanha in só ’n ernstige lig dat ’n raad van ondersoek nou aangestel is om dit te ondersoek.
Dié stap kom nadat klagtes deur beswaardes by die akademie aan Die Burger gestuur is omdat verskeie klagtes aan hoër gesag by die akademie tot dusver op dowe ore geval het.
Mnr. Siphiwe Dlamini, hoofwoordvoerder van die departement, het bevestig die raad van ondersoek sal die saak verder voer.
Die klagtes hou hoofsaaklik verband met die optrede van ’n senior offisier wat die afgelope twee jaar betrek word by enigiets van die beweerde misbruik van regimentsgeld tot die ongemagtigde gebruik van reis- en verblyfgeld en die intimidasie van bruin en wit akademielede.
Van die geld word glo gebruik vir sy dobbelbedrywighede, terwyl verskaffers kontrakte kry wat nie behoorlik gemagtig is nie. Die regimentsfonds word vir dieselfde doeleindes “misbruik”.
Al die lede van die akademie dra by tot dié fonds, wat veronderstel is om hul geriewe te verbeter.
Die afgelope paar maande gebruik die betrokke offisier dit glo toenemend om sy gaste te onthaal.
Hy het glo hiervoor selfs ’n ooreenkoms met ’n kreefverskaffer gehad, wat tans tronkstraf uitdien vir onwettige handel in seekos.
Hy het verder na bewering ’n vendetta teen die bruin lede van die akademie nadat hy met een van hulle ’n ooreenkoms probeer bereik het om ’n merietebonus aan hom toe te ken, wat hulle sou deel. Die soldaat het glo geweier, maar verskeie van sy kollegas daaroor ingelig. Sedertdien lei dié bruin kollegas glo ’n vreeslike lewe onder die offisier.
Hy het dit glo ook aan van die wit soldate gestel dat hulle “nie gemaklik moet raak nie”, want hy gaan transformasie toepas totdat dit hom pas. Dít doen hy glo reeds deur mense uit ad hoc-poste met sy eie aanstellings te vervang.
Wanneer hy oor van die uitgawes gekonfronteer is omdat dit strydig is met die weermag se regulasies, maak hy die regulasies af as riglyne wat verander kan word.
Só is R25000 goedgekeur sodat ’n koor uit die Oos-Kaap op verlede jaar se afsluitingsparade kon optree. Dit het uiteindelik glo meer as R50000 gekos, terwyl daar verskeie goeie skoolkore naby Saldanha is. ’n Munisipaliteit in die Oos-Kaap sou die geld glo terugbetaal, maar het nog nie.
Dlamini het nie gesê wanneer die ondersoek voltooi sal wees nie.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment