Monday, June 21, 2010

Dwarslêers gesteel


Dwarslêers gesteel

2010-06-20 22:50

Die stoomlokomotief, kolewa en watertenk van die Friends of the Rail-stoomtrein lê gister op sy kant nadat hy 800?m van die Cullinan-stasie ontspoor het. Foto: Theana Calitz
Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Mia Willemse
’n Stoomlokomotief wat waens met honderde passasiers gesleep het, het gister op ’n Vadersdag-uitstappie buite Pretoria ontspoor omdat dwarslêers naby die Cullinan-stasie onder die treinspoor uitgesteel is.“Dankie, Here, my pa is oukei,” het me. Dominique Smith (25) van Pretoria-Oos gister met ’n groot glimlag gesê kort nadat die lokomotief van die Friends of the Rail-stoomtrein, waarvan haar pa, Steve (55), die stoker was, ontspoor en ná ’n “harde slag” op sy sy beland het.Volgens mnr. Johannes Jaf-tha, polisiewoordvoerder, het die ongeluk 10:55 gebeur en is nie een van die 627 passasiers wat Vadersdag op dié 190 ton-trein op ’n uitstappie was, beseer nie. “’n Voorlopige ondersoek wys dat boewe ’n paar van die dwarslêers op die spoor naby Cullinan gesteel het en dít het die ongeluk veroorsaak,” het Jaftha gesê. Die stoomlokomotief, kole-wa en die watertenk van die trein het omgeslaan.’n Verligte Dominique Smith het vertel sy en haar suster, Bernadine (24), het gister spesiaal op die trein gery omdat hul pa moes werk en hulle op Vadersdag by hom wou wees.Die trein was omtrent 800 m van sy stilhouplek op die Cullinan-stasie van waar hy sou terugkeer Pretoria toe. “Toe ek die ongelooflike harde slag hoor, was die heel eerste gedagte wat deur my kop gegaan het of my pa oukei is. “Ek het geweet hy is voor in die lokomotief en toe ons stop, spring ek uit en hardloop met alles wat in my is om by hom uit te kom.”Volgens mnr. Smith het hy dadelik na sy twee dogters, wat in een van die agterste waens was, gehardloop. “Ek kon hulle nie dadelik kry nie, toe bel ek vir Dominique (op haar selfoon) en was só verlig toe ek hoor hulle het nie seergekry nie. Ons kan vandag vier dat ons drie darem nog lewe en volgende jaar kan ons gelukkig weer Vadersdag saam wees,” het hy gesê.Volgens hom het dinge baie vinnig gebeur. “’n Trein kan nie dadelik tot stilstand kom nie en toe ons agterkom wat aangaan, was dit reeds te laat. Ek het na goed gegryp waaraan ek kon vashou om nie aan die onderkant van die vallende trein te beland nie,” het hy gesê. Mnr. Nathan Berelowitz, voorsitter van die Friends of the Rail-klub, het gesê: “As dit nie was vir die drywer wat omtrent so stadig soos loopspoed gery het nie, kon hierdie ongeluk in ’n baie lelike tragedie verander het.”Mnr. Henry Lazenby, wat gister in beheer van die trein was, het gesê die trein het baie skade opgedoen. “Die boewe het beslis vir baie skade gesorg.“Toe ek daardie verskriklike slag hoor, het ek geweet daar is net een ding wat dit kon veroorsaak,” het hy gesê. Volgens hom steel boewe die dwarslêers om meubels mee te maak.Friends of the Rail is ’n nie-winsgewende organisasie. Die geld wat hulle met uitstappies verdien, word gebruik om ou stoomlokomotiewe te restoureer. Die Spoorveiligheidsreguleerder het gister in ’n verklaring gesê hulle ondersoek die voorval. Mense met inligting oor die diefstal van die dwarslêers word gevra om die Cullinan-polisiekantoor by 012 734 0751 te skakel.

No comments:

Post a Comment