Tuesday, May 11, 2010

Aandeelskema vir boere oorweeg


Aandeelskema vir boere oorweeg

2010-05-11 01:19

Kirby van der Merwe
Johannesburg - Die ANC ondersoek ’n aandeelskema vir swart boere om die huidige beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper te vervang en grondhervormingteikens te bereik.
Daarvolgens sal kommersiële boere tot sowat 40% se waarde van plase aan swart aandeelhouers moet afstaan.
Me. Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, het gister in ’n onderhoud aan Die Burger gesê dié plan kan vervat word in ’n hersiene swart bemagtigingshandves vir die landbousektor.
Dit volg op haar aankondiging verlede maand in die departement se begrotingsrede dat sy ontevrede is oor die stadige pas van transformasie en beplan om teikens vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) in wetgewing vas te maak.
Dié plan is gister met ongeloof in landboukringe begroet, met Agri SA wat gesê het dié organisasie weet niks daarvan nie. Ook dr. Pieter Mulder, VF+-leier en Joemat-Pettersson se departementele adjunk, is nie bewus daarvan nie.
Die minister het gister gesê die regering se mikpunt om 30% van landbougrond teen 2014 in swart besit te plaas (nog net 5% is tot dusver oorgedra) het weens die beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper misluk. Daar is ’n dooiepunt tussen die landbougemeen- skap en die regering.
“Indien ons die dooiepunt nie breek en die grondkwessie nie gesamentlik gaan oplos nie, stuur ons af op ’n situasie wat Zimbabwe na ’n teddiebeer-piekniek gaan laat lyk.”
Sy het gesê gesprekke duur voort met georganiseerde landbou om na alternatiewe SEB-modelle te kyk, maar dat versnelde grondhervorming onvermydelik is. Boere het volgens haar ’n keuse om saam te werk of vas te skop.
“Ons moet wakker skrik...ons moet ophou om ons koppe in die sand te druk en saam besluit hoe dit (grondhervorming) gaan gebeur, want as ons dit nie doen nie, stuur ons op ’n ramp af,” het sy ­gesê.
Die voorstel van landbou-aandeelskemas sal volgens haar in September gedurende die ANC se tussentydse nasionale konferensie bespreek word.
Joemat-Pettersson se uitlatings sluit aan by soortgelyke stellings van mnr. Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming.
Hy het reeds ’n groenskrif oor die regering se nuwe benadering tot grondhervorming, insluitend alternatiewe tot die beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper, aan die kabinet voorgelê.
’n Aankondiging daaroor word eersdaags verwag.
Mnr. Johannes Moller, president van Agri SA, het dit betreur dat Joemat-Pettersson haar bemoei met SEB en eienaarskap terwyl sy veronderstel is om landbousake te bevorder.
Volgens hom is die bemagtigingshandves, wat in Maart 2008 onderteken is, die produk van lang onderhandelinge deur alle rolspelers.
“Nou moet daar van voor af onderhandel word. Ons het vir jare met die departement van handel en nywerheid oor SEB gepraat...as dit oor grondsake gaan, praat ons met Nkwinti se departement...ministers moet hulle hou by hul lynfunksies.”

No comments:

Post a Comment