Saturday, May 8, 2010

Regses: Sewe in die hof vir hoogverraad



Regses: Sewe in die hof vir hoogverraad

2010-05-07 21:55

Verwante skakels
Polisie gryp regses in Pta
Marietie Louw-Carstens en Lizel Steenkamp
Sewe mans wat glo bande met regse organisasies het, het gister op aanklag van onder meer hoogverraad in die landdroshof in Phalaborwa verskyn.Vier van hulle, van Phalaborwa, is sowat twee weke gelede in die dorp in hegtenis geneem en die ander drie vroeër vandeesweek.Kol. Musa Zondi, woordvoerder van die Valke, het gesê die aanklagte teen hulle is hoogverraad, die onwettige besit van plofstof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.Die aanklagte teen twee van hulle is gister teruggetrek.Intussen het genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, gister gesê ’n verdagte wat op 12 April in Pretoria in hegtenis geneem is nadat die polisie op ’n “arsenaal van vernietiging” in sy besit afgekom het, is reeds op borgtog van R10 000 vrygelaat.“Hy het ’n plaas iewers buite Gauteng,” het Cele gesê. “Ons monitor alle aktiwiteite oor die land heen en ons ondersoeke vorder goed.”Mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, het eergister tydens ’n parlementêre inligtingsessie gesê dié verdagte het wapens, wapen-onderdele en pa- trone vervaardig. Volgens hom het die man ook beplan om plofstof “in swart townships te plant”.Wat die Phalaborwa-saak betref, het Zondi gesê al die aanklagte teen mnre. Hendrik Venter (21) en Albert Kruger (22) is gister teruggetrek weens te min bewyse. Mnr. Francois de Vos (36), ook van Phalaborwa, is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Hy is op 22 April in hegtenis geneem nadat drie mans op 19 April aangekeer is omdat hulle die graf van mnr. Norman Ma-shabane, ’n voormalige ambassadeur in Indonesië, glo geskend het.Mashabane (51) is in 2007 in ’n motorongeluk buite Polokwane dood. Hy was getroud met me. Maite Nkoana-Mashabane, nou minister van internasionale betrekkinge en samewerking.’n Vierde beskuldigde en inwoner van Phalaborwa, mnr. Georgios Kiratzidis (21), se huis is deurgesoek. Die polisie het beslag gelê op ’n 9 mm-pistool waarvan die reeksnommer afgevyl is, asook op patrone van verskeie wapens, tuisgemaakte ploftoestelle en twee rekenaars.Kiratzidis se inhegtenisneming het die polisie na De Vos en mnre. Martin Vorster (19) en Ruan Louw (21) gelei. Die polisie het tydens hul arrestasie op ’n ongelisensieerde vuurwapen en ’n Colt 45- outomatiese pistool beslag gelê. Kiratzidis, Vorster, Louw en mnr. Andries Stroh (22), wat vandeesweek vasgetrek is, is steeds in aanhouding.ANC-lede van die Phalaborwa-tak het gister voor die landdroshof betoog. Hulle het ná die mans se verskyning vreedsaam uiteen gegaan. Zondi het gesê die vier aangehoudenes sal volgende Vrydag in die Phalaborwa-landdroshof om borgtog aansoek doen.Cele het gister herhaal die verdagtes wat die afgelope maand landwyd in hegtenis geneem is, het “verregse bande”. Hy wou nie bekend maak hoeveel mense die polisie reeds in hegtenis geneem het nie omdat dit hul ondersoeke glo kan belemmer.
(Beeld )

No comments:

Post a Comment