Saturday, May 1, 2010

W-Kaap se water is vuil




W-Kaap se water is vuil


2010-04-30 00:55

Liesl Peyper
Kaapstad
Sowat 30% van die Wes-Kaap se munisipaliteite se rioolsuiweringswerke is nié op peil nie.
Dié syfer kan selfs hoër wees omdat nege van die provinsie se 29 suiweringsaanlegte nie beoordeel kon word nie.
Me. Buyelwa Sonjica, minister van waterwese en omgewingsake, het gister die langverwagte Groendruppel-verslag – waarin die stand van die land se rioolsuiweringsaanlegte uitgestippel word – bekend gestel.
Luidens die verslag funksioneer 55% van die suiweringsaanlegte in Suid-Afrika nie behoorlik nie.
Dit kom daarop neer dat dié munisipaliteite rioolafval in riviere of damme stort.
Die syfer kan egter beduidend hoër wees omdat slegs 449 van die altesaam 852 suiweringsaanlegte beoordeel is.
Luidens die verslag het die res van die munisipaliteite óf nie gehoor gegee aan oproepe om beoordeel te word nie óf nie die “vrymoedigheid” gehad om aan ’n beoordeling onderwerp te word nie.
Sonjica het gister ondanks die verslag se skoksyfers ontken Suid-Afrika se rioolsuiweringsaanlegte is in ’n krisis.
“Wanneer is iets ’n krisis? Is dit ’n krisis wanneer ons ’n probleem identifiseer?”
Toe sy later gepols is oor waarom dit so lank geneem het om die verslag bekend te maak (sy het ses maande gelede glo reeds onderneem om dit te doen), het sy aangevoer sy wou Suid-Afrikaners nie onnodig verontrus nie.
“Ons kon nie net alarmisties wees nie. Ons moes eers oplossings aan die hand doen,” het sy gesê.
Van die 20 Wes-Kaapse suiweringsaanlegte wat aan die Groendruppel-projek deelgeneem het, het die Kaapstadse metropool (met ’n gemiddelde van 82%) en die ­George-munisipaliteit (met 94%) Groendruppel-status verwerf.
Dit beteken dié twee munisipaliteite voldoen aan internasionale peil wat rioolsuiwering betref.
Die Wes-Kaap het egter ’n bra swak gemiddelde punt van 47% vir sy watersuiwingsaanlegte behaal en ses plaaslike owerhede het onder 20% verwerf.
Heel onder op die puntelys was Matzikama (waaronder Vredendal, Strandfontein en Lutzville), wat 0% behaal het, terwyl Cederberg (onder meer Lambertsbaai, Citrusdal en Clanwilliam) met 3% in die tweede swakste plek is.
Luidens die verslag het dié twee munisipaliteite min of geen van die vereistes ingevolge waarvan watersuiwering beoordeel word nagekom nie en word afvalwater daar uiters swak bestuur.
Die Bergrivier-munisipaliteit (Piketberg, Porterville en Velddrif) het ’n punt van 11% behaal.
Die Bergrivier se water is berug weens grootskaalse besoedeling.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment