Friday, April 30, 2010

Besoekers ‘ingeloop deur Match se optrede’











Besoekers ‘ingeloop deur Match se optrede’




2010-04-30 00:55

Theuns van der Westhuizen
Kaapstad
Fifa en Match Event Services, amptelike akkommodasie-agent vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi, het hulself die gramskap van talle Suid-Afrikaners op die hals gehaal.
Etlike eienaars van gastehuise, reisagente en toeroperateurs is omgekrap omdat Match sedert Desember groot getalle kamers wat hy vir die toernooi gekontrakteer het, teruggegee het.
Nou blyk dit ook uit ’n boek wat pas deur die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) gepubliseer is dat Match die room afskep van die blyplekke wat hy nog op sy boeke het.
Die boek Player and Referee – Conflicting Interests and the 2010 Fifa World Cup is saamgestel uit ondersoeke wat joernaliste gedoen het na die bedrywighede van Fifa en sy netwerk van “skimagtige” sakevennote, onder wie Match. En die bevindings is allermins vleiend.
In ’n hoofstuk oor Fifa se “amptelike” verskaffers word onder meer daarop gewys dat hulle baie meer geld uit onlangse Wêreldbeker-toernooie gemaak het as die gasheerlande.
Skerp kritiek word uitgespreek oor Match se optrede in Suid-Afrika, waar hy verblyfplekke gemaan het om pryse laag te hou omdat toeriste “sensitief vir pryse” is.
Volgens die skrywer van dié hoofstuk, Rob Rose van die Sunday Times, sal toeriste egter in sommige gevalle tot 1 000% meer moet opdok as hulle verblyf in byvoorbeeld die Krugerwildtuin deur Match bespreek het.
Volgens die gasvryheidsorganisasie Fedhasa het Match nou nog net 600 000 van die 1,9 miljoen bednagte wat hy aanvanklik gekontrakteer het.
Mnr. Rey Franco, waarnemende voorsitter van Fedhasa (Kaap), het gesê dit is natuurlik teleurstellend, maar dit bied “ons ’n gulde geleentheid om nou redelike tariewe te vra en waarde vir geld te bied”.
Hy het sy steun toegesê aan ’n versoek dat die bedryf sy produkte op die webwerf http://www.rooms4u.travel/ moet bemark. Dis ’n webwerf wat met die steun van die departement van toerisme geskep is as teenvoeter vir hoë verblyfpryse.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment