Thursday, April 29, 2010

Die vyeblaar oor staat se skandes

Die vyeblaar oor staat se skandes

2010 April

Mozal, die reuse-aluminiumsmelter van BHP Billiton net buite Maputo. Billiton gebruik byna 10% van die elektrisiteit wat Eskom opwek.

Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's

Die ANC is besig met korrupsie op ’n monumentale skaal wat Suid-Afrika ’n mislukte staat sal maak as dit nie gestop word nie, skryf Helen Zille, DA-leier.

Nog ’n skandaal het rondom Eskom losgebars. Daar is bekend gemaak dat Eskom in die geheim afslag van onder kosprys vir elektrisiteit aan die mynboumaatskappy BHP Billiton gee.

Die maatskappy gebruik byna 10% van alle elektrisiteit wat Eskom opwek.

Dit kom op ’n tydstip waar van verbruikers verwag word om vir ’n elektrisiteitsverhoging van 25% op te dok.

Aangesien Billiton net 0,1% tot die bruto binnelandse produk bydra, is dit moeilik om te sien hoe die afslag geregverdig kan word.

Die koste van die afslag aan Billiton het na bewering die grootste deel van Eskom se verlies van R9,5 miljard verlede jaar uitgemaak.

Daar was nog geen verduideliking van Eskom nie. Al wat ons van Eskom hoor, is teenstrydighede. Hulle dreig om mnr. Pieter van Dalen, DA-LP, te dagvaar omdat hy die geheime Eskom-dossier in die parlement onthul het.

Soos verwag het die ANC, wat verteenwoordig word deur me. Vytjie Mentor, voorsitter van die komitee oor openbare ondernemings, gedreig om stappe te doen om LP’s te keer om sensitiewe staatsinligting in hul komitees openbaar te maak.

Sy verstaan duidelik nie dat Eskom ’n openbare onderneming is en dat die publiek die reg tot sulke inligting het nie, veral omdat Eskom se verlies deur alle Suid-Afrikaners gesubsidieer word.

Dit is Mentor se werk om ’n platform in die komitee te skep waar sulke inligting voorgelê en ondersoek kan word. Maar sy wil Eskom help om dit toe te smeer.

Hoekom?

Die antwoord is dat Mentor, soos baie ander ANC-LP’s, glo Eskom behoort aan die ANC en nie aan die mense van Suid-Afrika nie.

ANC-belange kry voorkeur
Die ANC ontplooi sy kaders in alle openbare ondernemings. Hierdie kaders word deur die ANC-grondwet gebind om ANC-opdragte uit te voer.

Die ANC se belange geniet voorkeur bo enige ander.

Gevolglik bied hierdie ondernemings kontrakte aan ANC-frontmaatskappye sodat die ANC honderdmiljoene rande maak met die vergunning van die belastingbetaler.

Dit is korrupsie op groot skaal. Dit is diefstal van die Suid-Afrikaanse publiek. Dit maak arm mense armer.

Maar polities moet die ANC bly voorgee dat hy ’n kampvegter is vir die armes. Dis waarom Mentor toesmeer vir Eskom. En sodoende smeer sy toe vir die ANC.

Weer troef die party se belange openbare belang.

Baie in die ANC verstaan nie dat die grondwetlike rol van politieke partye in die parlement, insluitend die ANC, is om die regering en staatsondernemings soos Eskom aanspreeklik te hou nie.

Hulle verstaan nie dat dit inherent korrup is om ANC-kaders in staatsinstellings te ontplooi, om sake met ANC-frontmaatskappye te doen en die ANC te verryk nie.

Hulle gee voor dit is swart ekonomiese bemagtiging. Maar dis net ’n vyeblaar. Dit is korrupsie op monumentale skaal wat van Suid-Afrika ’n mislukte staat sal maak as dit nie gestop word nie.

Dit moet ons verwysingsraamwerk wees wanneer ons die verwikkelings by Eskom ontleed.

Die DA sal probeer uitvind wat presies met die BHP Billiton-afslag aan die gang is. Ons sal probeer uitvind waarom Eskom so gretig is om reuse-afslag aan hierdie maatskappy toe te staan en wat die aard van die ANC se verhouding met BHP Billiton is.

Ons sal die benadering ook volg in die ander groot Eskom-skandaal oor die toekenning van ’n tender van miljarde rande aan Hitachi Africa, wat gedeeltelik deur die ANC se frontmaatskappy Chancellor House besit word.

Hitachi beweer dat hy nie geweet het die ANC is betrokke nie.

Hy het geglo Chancellor House se winste sou gaan na voorheen benadeelde Suid-Afrikaners. Dit is belaglik.

Hitachi het erken dat Chancellor House slegs R1 miljoen betaal het vir die 25%-aandeel in die megamaatskappy.

Hitachi het natuurlik geglo hy kan baie staatstenders en -kontrakte kry met die ANC as ’n 25%-aandeelhouer.

Hierdie geloof is ryklik beloon met die Medupi-stoomketeltender.

Dit illustreer Hitachi se ware motief. Ons glo glad nie hul vroom en neerbuigende uitsprake dat benadeelde Suid-Afrikaners bevoordeel sou word nie.

Verhouding tussen Hitachi en Alstom.

’n Interessante verwikkeling is die verhouding tussen Hitachi Africa en die maatskappy Alstom en Steinmuller.

Volgens die Mail & Guardian het Eskom met die toekenning van die kontrak in November 2007 verklaar: “... ’n konsortium van ingenieursfirmas, Alstom en Steinmuller, het aanvanklik die laagste bod ingesit en die direksie het die kontrak aan hulle toegeken.

Slegs nadat Alstom en Steinmuller sy prys verhoog het ná ’n meningsverskil oor die omvang van die werk, is onderhandelings met Hitachi heropen...”

Met ander woorde, nadat hulle die bod gewen het, het Alstom en Steinmuller hulle vrywillig onttrek.

’n Bron het toe aan die Mail & Guardian gesê Alstom het “hulself in effek gediskwalifiseer” deur nie aan Eskom se vereistes te voldoen nie.

Die storie raak al hoe ingewikkelder as ’n uitspraak deur die Europese mededingingskommissie van Januarie 2007 in ag geneem geword.

Die kommissie het ’n rekord boete van €750 miljoen (sowat R7,5 miljard) opgelê aan ’n kartel wat saamgespan het om pryse vas te stel en tenders uit te deel.

Twee van die hoofspelers in die kartel was Alstom en Hitachi.

In sy mediaverklaring het die mededingingskommissie gesê hy het “’n einde gemaak aan ’n kartel wat openbare ondernemings en verbruikers meer as 16 jaar lank bedrieg het”.

Daar is bevind dat lede van die kartel gereeld ontmoet het “om projekte te verdeel en om skynaanbiedings voor te berei om die indruk van ware mededinging te skep”.

Dit opper nuwe en interessante vrae oor die Eskom-tenderproses.

In ag genome Hitachi en Alstom se vorige korrupte verhouding, skep dit die moontlikheid van die een of ander vorm van samespanning tussen die twee maatskappye.

Deur Alstom toe te laat om die Medupi-stoomketelkontrak te kry – net om later te onttrek – sou die uiteindelike toekenning van die tender aan ’n ANC-gekoppelde maatskappy die skyn van wettigheid en fatsoenlikheid kry.

Die feit dat Hitachi die tweede (hoewel enigste ander) keuse was, het die openbare beskermer voldoende rede gegee om tot die gevolgtrekking te kom dat die toekenning van die tender wettig was, ten spyte daarvan dat mnr. Valli Moosa, Eskom-voorsitter, nie sy belangebotsing bestuur het nie.

En nadat hy homself gediskwalifiseer het van die stoomketeltender, hoe het Alstom daarby baat gevind?

Alstom was die wenbieër van die R13-miljard Eskom-stoomturbinekontrak – maar slegs nadat Hitachi (weer die enigste ander bieër) hom aan die tenderproses onttrek het omdat “hy nie aan die aanvanklike leweringskedule kon voldoen nie”.

Met ander woorde, Hitachi en Alstom het blykbaar teruggestaan om mekaar toe te laat om ’n deel van die kontrak te kry om voor te gee dat dit eintlik ’n mededingende proses is.

Die bewyse, hoewel oorweldigend, moet nog getoets word.

As die opposisie is dit ons plig om hierdie soort vrae te vra, veral wanneer die publiek se geld en belange ter sprake is.

Ek het dus aan die SA Mededingingskommissie geskryf om te vra dat hulle die moontlikheid van samespanning in die tenderproses ondersoek.

Daar is iets fundamenteels fout met die Eskom-transaksies.

Dit is ’n besmetting wat versprei het na die kern van die regerende party. Ons sal alles in ons vermoë doen om uit te vind wat die waarheid is.

No comments:

Post a Comment