Tuesday, April 20, 2010

Huis met ma, kinders in aan die brand gesteek....skietery twee uur lank









Huis met ma, kinders in aan brand gesteek



2010-04-19 21:58

Buks Viljoen
Aanvallers het die naweek ’n houthuis met ’n vrou en haar kinders daarin op ’n plaas naby Carolina aan die brand gesteek nadat hulle die deur met ’n stuk draad toegebind het.Toe haar ouers die gesin te hulp snel, is daar op hulle geskiet.“Hulle was daarop uit om ons te vermoor. Dié het niks met diefstal te doen nie,” het me. Cornelia de Wet (32) van die plaas Kwaggafontein naby Carolina gister gesê.Sy het Saterdagnag omstreeks 22:00 wakker geword toe sy rook ruik. Sy het gesien die muur en gordyn in haar kamer brand.Die aanvallers het diesel op die houthuis gegooi en dit toe aan die brand gesteek.In die slaapkamer het sy ’n brandende CD gekry.De Wet het vergeefs probeer om twee van haar kinders, Cornelia (11) en Joey (2), wat by haar op die dubbelbed geslaap het, wakker te maak.“Die rook het hulle blykbaar bewusteloos gemaak.”Sy het die vlamme aan die gordyn geblus en probeer om die huisie se deur oop te maak, maar kon dit nie regkry nie omdat dit met ’n stuk draad vasgebind was.De Wet se ouers, mev. en mnr. Nelie (62) en Jan de Wet (65), woon in ’n plaasopstal sowat 50 m van De Wet jr. se huisie. Haar ander dogter, Sarah (8), het die aand by hulle geslaap.De Wet jr. het oor ’n tweerigtingradio, wat skaars twee weke gelede geïnstalleer is, hulp by haar ouers probeer kry.“Toe hulle uit die huis kom, is daar vanuit die donker op hulle losgebrand.”Die ouerpaar het met ’n haelgeweer en pistool die donker in geskiet om die aanvallers te probeer verjaag.De Wet jr. het gesê daar is ook op haar geskiet toe sy deur die kombuisvenster geleun het om die stuk draad om die deur se slot los te woel.Die skietery het volgens haar byna twee uur lank geduur.Pogings om die polisie in Carolina, sowat 12km van die plaas, in die hande te kry was aanvanklik vrugteloos omdat hulle nie die telefoon geantwoord het nie.Sy het toe haar broer, mnr. Jan de Wet jr., wat naby Belfast boer, gebel.Hy het na die plaas gejaag. “Toe ek daar aankom, het die skote steeds geklap,” het hy gesê. “Ek het aan hulle geskree ek gaan hulle vrekskiet!”Hy het ook in die rigting van die aanvallers begin skiet. Die skietery het toe bedaar.Mnr. De Wet jr. raam daar was tussen tien en 15 aanvallers.“Die aanval was fyn beplan en hulle het voorbereid gekom en met genoeg ammunisie.”Die polisie het 9mm- en haelgeweerdoppies en enkele patrone naby die huise opgetel.Een van die koeëls was van ’n vreemde kaliber wat selfs vir die polisie onbekend is.Die lang gras het die soektog na nog bewysstukke bemoeilik. Mnr. De Wet jr. het gesê voetspore is ook naby die toneel gevind.Niemand is in die aanval beseer nie.

No comments:

Post a Comment