Thursday, April 8, 2010

Solidariteit en AfriForum dien klag teen Malema by polisie in




Solidariteit en AfriForum dien klag teen Malema by polisie in
2010-04-07 22:40

Hilda Fourie
Johannesburg
Die regering moet besluit: óf hy ondersteun die geveg teen misdaad óf hy ondersteun die lied “Ayesab’ amagwala”, maar hy kan nie met plaasmoorde simpatiseer en steeds die sing van die lied aanmoedig nie.
So het mnr. Dirk Hermann, ­adjunkhoof van Solidariteit, gister gesê kort nadat dié vakbond saam met die burgerregte-waghond AfriForum ’n klag van min­agting van die hof teen mnr. Julius Malema, ANC-jeugleier, by die polisie ingedien het.
Dit kom nadat Malema die omstrede lied die afgelope naweek in Zimbabwe gesing het ondanks ’n interdik wat hom verbied om dit te doen.
Mnr. Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, het gesê hulle het dié klag op grond van regsadvies ingedien.
Volgens Spies gaan hulle uit van die beginsel dat Malema die implikasies moes voorsien het toe hy die uitlating weer in die teenwoordigheid van Suid-Afrikaanse media gemaak het.
Mnr. Flip Buys, voorsitter van AfriForum, het gesê die sing van dié lied met die woorde “Skiet die Boere” skep ’n probleem waar daar ’n prima facie-verband tussen moorde – meer spesifiek plaasmoorde – en die lied is.
Dit kan ook lei tot opsweping om moord te pleeg.
Die moord op mnr. Eugène Terre’Blanche is volgens Buys net die laaste in ’n reeks van meer as 3 000 plaasmoorde in die afgelope drie jaar.
“Dit gaan oor meer as net die moord op Eugène Terre’Blanche,” het hy gesê.
“Oor die algemeen dra die sing van die lied by tot ’n klimaat waar mense van ’n spesifieke etniese groep die teikens word van geweld en die persepsie dat ’n mens boere kan vermoor.”
Hermann het gesê die enigste manier om die persepsie dat die sing van die lied verband hou met plaasmoorde in die kiem te smoor, is om die lied in die kiem te smoor.
Dir. André Wiese, stasiebevelvoerder van die Brooklyn-polisiekantoor, het bevestig dat ’n saak van minagting van die hof geopen is en dat die polisie dit ondersoek.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment