Saturday, April 10, 2010

WWF-SA en Greenpeace kap Wêreldbank oor Eskom-lening





WWF-SA en Greenpeace kap Wêreldbank oor Eskom-lening


2010-04-09 23:25
Jorisna Bonthuys
Kaapstad - Omgewingsgroepe het nie geesdriftig gereageer op die Wêreldbank se goedkeuring van ’n omstrede lening aan Eskom nie.
Dit blyk uit standpunte hieroor wat deur die Wêreld-Natuurfonds Suid-Afrika (WWF-SA) en Green­peace in verklarings geopper is.
Die Wêreldbank het eergister ’n lening van $3,75 miljard (nagenoeg R27,3 miljard) aan die kragvoorsiener toegeken. Dit sal hoofsaaklik vir die ontwikkeling van ’n nuwe steenkoolkragsentrale gebruik word.
Altesaam R22,5 miljard hiervan is vir die bou van die Medupi-kragstasie van 4 4800 mW en R1,95 miljard vir hernubare kragprojekte.
Greenpeacehet ge sê dié besluit dui op gebrekkige begrip van die bedreigings wat klimaatsverandering – en steenkoolverbranding se bydrae tot die koers daarvan – inhou.
“Die besluit om ’n argaïese energieproduksiemodel te steun wat van steenkool gebruik maak, plaas die Wêreldbank voor nóg ’n struikelblok om ’n regverdige en ambisieuse oplossing vir die klimaatkrisis te probeer daarstel.”
Die Wêreldbank se volgehoue steun vir koolstofintensiewe projekte laat volgens dié organisasie ernstige vrae ontstaan oor sy geloofwaardigheid om progressief deel te neem aan pogings om klimaatingrypings toe te pas en klimaat­verwante aanpassings mee te bring.
Me. Melita Steele van Green­peace Africa het gesê dié besluit raak honderde duisende arm mense wêreldwyd, veral in Afrika, wat aan die ontvangkant staan van die effek van “gevaarlike besluite” soos dié.
Mnr. Saliem Fakir, hoof van die WWF-SA se Eenheid vir ’n Lewende Planeet, het op sy beurt gesê dié besluit erken nie behoorlik die geleenthede wat hernubare energieontwikkeling in Suid-Afrika kan bied nie.
Dit is ook nie duidelik hoe die publiek daaruit gaan voordeel trek nie.
“Stukrag en politieke wil is nodig om weg te beweeg van steenkool as die primêre energiebron,” het hy bygevoeg.
Fakir het gesê sy organisasie gaan hom nou beywer om die bou van nog steenkoolkragsentrales te stuit. Planne vir die bou van die beoogde Kusile-kragsentrale moet eers teruggehou word tot ’n volledig geïntegreerde hulpbronplan daargestel is.
Die WWF-SA het gesê hy is verontrus oor die manier waarop die regering kommer uit omgewingskringe en plaaslike gemeenskappe wat dié lening asook energiebeplanning oor die algemeen betref, bejeën het. Die WWF meen minstens 15% van Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorsiening moet teen 2020 van hernubare energiebronne afkomstig wees.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment