Monday, April 12, 2010

RDK se ‘kopwassery’ lei glo tot minder aspirant-regters







RDK se ‘kopwassery’ lei glo tot minder aspirant-regters



2010-04-11 23:28

Kaapstad
Die Regterlike Dienskommissie (RDK) begin vandag onderhoude met aspirant-regters voer te midde van verdeeldheid oor die transformasie van die regbank.
Van die kommissielede meen aansoekers met apartheidsbagasie word dikwels “aggressief” die kop gewas oor hul verlede, terwyl ander glo dié benadering is nodig om kandidate se toewyding aan die nuwe Grondwet te toets.
Adv. Hennie de Vos SC van Pretoria is verlede jaar deur die RDK versoek om verskoning te vra vir die tyd tussen 1982 en 1987 toe hy ’n lid van die destydse Konserwatiewe Party (KP) was.
“Sekere mense stel nie meer belang om aansoek te doen om regterposte nie, want hulle voel soos beskuldigdes in ’n beskuldigdebank,” het mnr. Koos van der Merwe, die IVP se hoofsweep, aan Die Burger gesê. Volgens hom meen van die RDK-lede hierdie houding moet “versag” word.
“Mense moet op grond van die meriete van hul werk beoordeel word.”
Adv. Dumisa Ntsebeza, RDK-woordvoerder en gewese hoof van die Waarheids-en-versoeningskommissie deel egter nie Van der Merwe se mening dat sekere kandidate “met handskoene” hanteer moet word nie.
“Ons moet vasstel waar hul alliansies werklik lê – hul toewyding moet in die eerste plek aan die Grondwet wees.”
Die Independent het gister berig daar is kommer oor die gebrek aan aansoekers op vanjaar se kortlys – veral in die Wes-Kaapse afdeling.
Die voormalige ANC-aktivis en prokureur me. Chantal Fortuin is glo die enigste nie-wit persoon op die kortlys van vier in hierdie gebied.
Die Black Lawyers’ Association (BLA) se president, mnr. Nano Matlala, en die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor justisie, mnr. Ngoako Ramatlhodi, was gister nie vir kommentaar bereikbaar nie.
Van der Merwe het gesê as daar ontevredenheid oor die gebrek aan kandidate is, moet organisasies soos die BLA help verseker dat die poel waaruit die RDK kan kies, groter is.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment