Monday, April 12, 2010

So beland riool in Sandrivier




So beland riool in Sandrivier


2010-04-12 01:34

TIENDUISENDE visse het die afgelope twee weke in Klippan begin vrek, na bewering weens die groot hoeveelheid riool in die water. Op die foto is die pyplyn waarmee rioolbesmette water uit die pan onttrek en tot in die Mostertkanaal gepomp word.Foto: T
Foto's · Lesersfoto’s · Volksblad in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Tom de Wet
WELKOM. – Skaars 60 treë van die naaste onderneming aan die onderpunt van Stateway, hoofstraat van Welkom, wei ’n trop spekvet varke in ’n kolkende stroom bloedgekleurde rou riool.
Dit word met opset deur die Ma-tjhabeng-munisipaliteit uit die rioolstelsel onttrek en deur ’n sloot tot in die aangrensende Klippan gelei omdat die rioolsuiweringsaanleg jare reeds stukkend is.
Tienduisende visse het gevolglik die afgelope twee weke in dié pan begin vrek en vrot.
Aan die ander kant van die pan word die vrot, rioolbesmette water teen sowat 3?000 liter per sekonde deur die munisipaliteit in die Mostertkanaal gepomp.
Dié kanaal is onlangs deur die munisipaliteit skoongemaak – om te sorg vir onbelemmerde vloei tot waar dit enkele kilometer verder direk in die Sandrivier uitmond. En die eerste opgaarplek stroomaf – die Bloemhofdam.
Volksblad kan vandag met ’n reeks foto’s onthul dat ondanks ’n hangende hofsaak teen die munisipaliteit oor sy rioolprobleme én dreigemente deur die minister, bestuur se minagting van die streng wette oor rioolbestuur duideliker as ooit tevore is.
Rou riool word jare reeds deur die munisipaliteit regstreeks in Klippan en ander panne buite Welkom gepomp.
Die hoeveelheid riool wat die pan instroom, het die afgelope paar maande drasties vermeerder met mobiele pompe wat in strate gebruik word om riool om die stukkende pompstasies en verstopte rioollyne tot in die stad se stormwaterkanale te herlei, wat reguit in die pan uitmond.
Die grootskaalse visvrektes die afgelope twee weke in die pan word deur natuurbewaring direk aan die hoeveelheid riool in pan toegeskryf.
Die departement van waterwese en bosbou se ondersoek- en regspan, asook lede van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad, het die gebied verlede week besoek. Mnr. Nigel Adams, adjunkdirekteur, het Saterdagmiddag uit sy kantoor in Pretoria gesê die uitslae van watermonsters is nog nie bekend nie.
Intussen word vir die uitbreek en verspreiding van botulisme-vergiftiging, wat deur watervoëls na ander panne in die Goudveld versprei kan word, gevrees.
Die uitslag van die toetse en die E.coli-telling sal bepaal wat verder gedoen moet word.
Die munisipaliteit se rioolprobleme het reeds tot aanklagte van die oortreding van die Waterwet gelei en agt voormalige munisipale bestuurders en waarnemende munisipale bestuurders van die munisipaliteit het?reeds hieroor in die hof verskyn. Die saak kom op 14 Junie weer voor.
Dit is die eerste saak in sy soort wat in Suid-Afrika in die hof draai en hou verband met waterbesoedeling en omdat die rioolaanlegte van dié munisipaliteit feitlik heeltemal buite werking is.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment