Saturday, April 10, 2010

Geen kos by Potch Landboukollege




Geen kos by Potch Landboukollege

Deur ALANI JANEKE
Studente aan die Potchestroom Landboukollege eis dat die hoof van die kollege moet bedank na die studente glo huis toe gestuur is omdat daar nie meer kos op die kampus is nie.
Luidens ‘n verklaring van AfriForum Jeug is ‘n versoek ook aan die Openbare Beskermer gerig om die kollege te ondersoek.
Volgens die verklaring is die studente gevra om huis toe te gaan omdat daar weens ‘n gebrek aan geld nie meer kos op die kampus is nie.
Me. Estelle Smit, AfriForum Jeug se koördineerder in Noordwes, sê die situasie is kommerwekkend: “Die studente betaal baie geld. Al wat hulle verwag is om basiese dienste en goeie onderrig te ontvang, maar die kollege is nie eers in staat om dít aan hulle te lewer nie.”
Volgens Smit gaan Afrikaanse studente boonop onder diskriminasie gebuk: “Afrikaanse studente kry nie studiemateriaal nie en dan word daar van hulle verwag om eksamen te skryf, ten spyte van die feit dat hulle nie daarvoor kan voorberei nie. Ons beskou dit as diskriminasie en growwe wan-administrasie en daarom is ernstige stappe nodig om die probleem op te los.”
Afriforum Jeug verwag dat die kollegehoof, mnr. Serage Dippepeneneng, moet bedank, aangesien die kollege onder sy leiding glo baie agteruit gegaan het.
April 2010
Kommentaar:

Oom Jaap, jy was dalk reg.......Uilspieël
2010-04-09


E-pos hierdie skakel/E-mail this link
Twee maande voor die begin van WB2010 word in hierdie land darem nou ‘n heksebrousel opgekook wat skrik vir niks. Jare lank al voorspel die regse doemprofete dat SA ‘n "tweede Zimbabwe" gaan word. Dit begin nou lyk na ‘n besliste moontlikheid. Ek deel nie party regses se Schadenfreude nie, maar helaas, hulle was dalk reg.‘n Tyd gelede is die nasionalisering van landbougrond vanuit regeringskringe as ‘n wenslike opsie voorgehou, of ten minste as iets waaroor ons moet "debatteer". Vandag word berig dat daardie vet klein sjampanje-Stalinis, Malema wil hê "Grond in Suid-Afrika moet soos in Zimbabwe ‘militant en radikaal' in beslag geneem word ..." Die reaksie van "bo" af is die gewone lamlendige ou storie dat Malema se uitlatings "nie ANC- of regeringsbeleid (is) nie". Dit kan net beleid word na ‘n "lang proses". Die ooglopende afleiding is dat die maghebbers inderdaad die agterdeur oophou vir die "Mugabe-opsie". Of dit bloot is omdat hulle te lamsakkig is om hulle klein Frankenstein-monster in die bek te ruk weet ek nie, maar dat hulle by implikasie daardie opsie oophou, staan nou soos ‘n paal bo water.Uilspieël
( Litenet )

No comments:

Post a Comment