Tuesday, April 20, 2010

‘Elke moord is nie rassisties’




















































































‘Elke moord is nie rassisties’

2010-04-19 23:25

Hilda Fourie
Johannesburg
Hou op om met elke moord die rassekaart te gebruik, het mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, gister ná ’n vergadering met afgevaardigdes van die Afrikaner- Weerstandsbeweging (AWB) in Pretoria gesê.
Daar ís uitdagings in Suid-Afrika, maar mense kan nie toegelaat word om met elke misdaad “rassistiese politiek” te speel nie.
Mthethwa het gesê die moord op die AWB-leier, mnr. Eugène Terre’Blanche, is ’n voorval wat Suid-Afrika geruk en baie emosies aangevuur het.
Hy het ’n beroep op mense gedoen om kalm te bly en hulle van lasterlike stellings te weerhou.
“Wat gerusstellend vir mense moet wees, is dat daar leiers in Suid-Afrika is wat die land se probleme hanteer. Niemand gaan toelaat dat ’n chaos in Suid-Afrika uitbreek nie.
“Oorlog is nie die oplossing vir die land se probleme nie. Suid-Afrika het ingewikkelde probleme wat (goeie) oordeel benodig.”
Mthethwa het gesê dit is nie die eerste keer dat voorvalle plaasvind waaroor mense emosioneel raak nie.
Dit het al baie in die verlede gebeur, maar elke keer was daar leiers wat dinge weer in plek gesit het.
“Daar is verskillende politieke standpunte in Suid-Afrika, maar ons almal het een oogmerk: die stryd teen misdaad. Ons wil almal die gewelddadige wese van misdaad in Suid-Afrika uitwis,” het Mthethwa, wat die vergadering met die AWB belê het, gesê.
Hy het bygevoeg misdaad, veral plaasmoorde, was een van die hoofredes vir die vergadering.
“Misdaad word oral in Suid-Afrika gepleeg en plaasmoorde gebeur, maar net so kry ons ook baie klagtes van plaaswerkers.
“Ons verantwoordelikheid is om na almal te luister, ’n middeweg te vind en ’n oplossing te kry. Dit is ons land en ons moet dit maak werk.”
Mnr. Steyn van Ronge, nuwe AWB-leier, het ná die vergadering gesê dat hy “alle rassisme en rassehaatspraak” verwerp. “Ons wil in vrede leef.”
- Die Burger

No comments:

Post a Comment