Sunday, April 11, 2010

Motorfietse brul as eer aan leier







Motorfietse brul as eer aan leier



2010-04-10 23:00


Mnr. Philip Slabber (46), links, en mnr. Frikkie de Wet (49) van Roodepoort se klere wys hul sy steun vir die ou Suid-Afrika. Hulle was onder die honderde motorfietsryers wat mnr. Eugène Terre’Blanche se begrafnis bygewoon het.
Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Carien Kruger
Honderde motorfietsryers het uit “biker-broederskap” saam Ventersdorp toe gery om mnr. Eugène Terre’Blanche se begrafnis by te woon.
Volgens mnr. Chris van den Heever (56) van Florida was Terre’- Blanche, met wie hy vriende was, ’n groot motorfietsliefhebber, hoewel hy nie self gery het nie.
Van den Heever, ’n “generaal” in die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) en president van die Red Eagles-motorfietsklub, sê motorfietsryers het van oral op verskillende plekke saamgetrek om Ventersdorp toe te ry om so eer aan die AWB-leier te betoon.
Manne en ’n paar vroue met leerbaadjies, baie daarvan vol lapelwapens, het op hul blink masjiene by onder meer ’n vulstasie in Krugersdorp byeengekom.
’n Paar se klere was versier met kentekens wat na die ou Suid-Afrika, Afrikaans of die AWB verwys.
Koeldrank en koffie is afgesluk en ’n plat flessie is rondgestuur.
Toe het die masjiene begin brul en het hulle in formasie na Ventersdorp vertrek.
“Dis ’n manier om die laaste eer aan ’n broeder te betoon,” het mnr. George Oberholzer (46) van die klub RBA Wolfs gesê.
“Ek het Terre’Blanche nie geken nie, maar hy het sy ding gedoen.”
Mnr. Mark Brennan (ook bekend as Mad Max) van die klub Road Eagles het gesê wittes moet saamstaan. “Niemand gaan ons stop nie.”
Vir mnr. Johan Louw (53) het die bywoning van die begrafnis gegaan oor Afrikanerskap en Boere.
“Ons ondersteun die Afrikanerdom in Afrika. Dis nie net ’n begrafnis nie. Ons moet die een of ander tyd as wit Afrikanermense ’n standpunt inneem.”
Hy het gesê ander mense in die land “moet afkoel of ons almal trek iewers anders heen”.
Agterop mnr. Philip Slabber (46) se baadjie was die ou vlag en die woorde: “100% BOER”.
Nog ’n kenteken op sy baadjie lui “F*kkie Nuwe Suid-Afrika” terwyl ’n ander een ’n nuwe landsvlag met ’n middelvinger op het.
Hy het gesê “samehorigheid van blankes” is vir hom belangrik.
-

No comments:

Post a Comment