Friday, April 16, 2010

'Dis groter as ooit'


'Dis groter as ooit'
2010-04-16 22:10
’n Deel van die reuse-skare wat gisteraand by die Mighty Men-saamtrek na mnr. Angus Buchan geluister het. Foto’s: Brendan Croft
Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Neels Jackson
Greytown. – Vanjaar se Mighty Men-saamtrek het gisteraand onder dreigende reënwolke met derduisende mans begin.Sommige het van so ver as Australië, Nieu-Seeland en Engeland op die plaas Shalom buite dié dorp toegesak vir die sewende en laaste saamtrek.Mnr. Angus Buchan se boodskap aan hulle was dat hulle “Watchmen of the house” moet wees. Dit beteken dat hulle God se boodskap in die eerste plek in hul huise, maar ook by die werk en verder moet uitdra.Hy het die mans aangemoedig om te sê: “Ek en my huis, ons sal die Here dien.”Buchan het ’n sterk bekeringsboodskap gebring waarin hy aan die mans gesê het hulle kan nie dié rol speel as hul eie lewens nie in orde is nie.Hy het onder meer gesê mans mag nie by hul sekretaresses slaap of die ontvanger van inkomste bedrieg nie.Hy het ook gemaan teen negatiewe praatjies oor die situasie in die land en gesê daar is sommige ouens wat die duiwel se werk vir hom so goed doen dat hy niks self hoef te doen nie.Hulle moenie vanaand bekommerd wees oor wat in Suid-Afrika gebeur nie, maar hulle moet in die eerste plek bekommerd wees oor wat in hul harte aan die gang is. “Ek glo ons nasie sal verander. Ek sien ’n nuwe Suid-Afrika voor, ’n land van vrede en rustigheid.”Buchan het hulle begelei in ’n gebed om hul sondes te bely, hulle opnuut tot God te bekeer en vir Hom te lewe.“Die Here is nie hier om jou te veroordeel nie, maar om jou ’n tweede kans te gee.”Oor sy eie gesondheid het Buchan gesê mense vra hoe hy voel. Terwyl hy op en af gespring het, het hy herhaaldelik gevra: “Lyk ek siek?” Daarop het hy sommer tien opstote op die verhoog gedoen om te wys hoe gesond hy is. Past. Bruce Winship, woordvoerder van die saamtrek, het vroeër gesê dis onmoontlik om ’n amptelike bywoningsyfer te gee, maar bygevoeg vanjaar se Mighty Men is groter as ooit. Sowat 60 vliegtuie het gister ingeryg gestaan langs die aanloopbaan van die vliegveld ’n paar kilometer van Shalom, terwyl voertuie steeds na die plaas gestroom het.Die tentedorp wat die konferensiegangers opgeslaan het, strek oor ’n kampeerterrein van 3miljoen vierkante meter en oor drie plase heen.’n Groot mediese en brandweerspan gaan na die konferensiegangers se veiligheid omsien. Eergister is ’n tent deur die wind geskep en teen kragdrade vasgewaai, maar daar was geen ernstige ongevalle nie. Mense wat weens die voorval brandwonde aan hul hande opgedoen het, is hospitaal toe gebring en behandel, waarna hulle ontslaan is. Daar was ook ’n ouerige man wat ’n ligte hartaanval gehad het, maar volgens Winship het hy met ’n hartprobleem by die saamtrek aangekom. Hier en daar het iemand gistermiddag met ’n koedoehoring geloop en dit iewers gaan blaas. Dit word gesien as ’n oproep tot gebed of tot stryd – maar, soos een man gesê het, “nie stryd soos die ANC of Malema nie, maar ’n geestelike stryd”.

No comments:

Post a Comment