Saturday, April 24, 2010

Bankrot munisipaliteit koop nuwe kar











Bankrot munisipaliteit koop nuwe kar




2010-04-24 01:34
Cobus Claasen
PRETORIA
Me. Anna Digoro, burgemeester van die bankrot Nokeng tsa Taemane-munisipaliteit (Cullinan, Rayton en omgewing), het ’n blinknuwe Audi van meer as R300 000 gekry.
Dié swart Audi A4 is vandeesweek in Rayton, oos van Pretoria afgelewer, nadat die Gautengse departement van plaaslike regering en behuising vroeër vandeesmaand nóg ’n reddingsboei van R5 miljoen aan Nokeng oorbetaal het.
Nokeng is verlede jaar onder finansiële administrasie geplaas weens die munisipaliteit se benarde geldsake.
Beeld, susterkoerant van Volksblad, het sedert 2006 gereeld berig oor Digoro se voorliefde vir ampsmotors, luukse hotelverblyf en duur kantoormeubels.
Daar was al in 2006 ontevredenheid oor haar voorkeure met ampsmotors toe die ANC-beheerde Nokeng-raad R700 000 vir twee ampsmotors – ’n Mercedes Benz E200 en Audi A4 – in die 2006-’07-begroting goedgekeur het.
Die Mercedes Benz is in Mei 2008 in ’n ongeluk verwoes, waarna Nokeng weens sy geldsake glo nie finansiering kon kry om dit te vervang nie. Mercedesse, BMW’s en Audi’s is daarna om die beurt teen byna R30 000 per maand vir Digoro gehuur.
Beeld het verlede jaar ’n vertroulike finansiële staat onder oë gehad wat toon dat Nokeng van 29 Mei 2008 tot 3 April 2009 sowat R285 000 betaal het om motors te huur.
Digoro het gister gesê die provinsie het geld vir die nuwe Audi voorsien nadat Nokeng dit op ’n raadsvergadering goedgekeur het.
Sy sê die raad se ander Audi gaan “ingeruil word” omdat dit al te veel kilometers afgelê het.
Digoro is gevra of die nuwe Audi nie ’n vermorsing van geld is in die lig daarvan dat haar pos in die volgende paar maande afgeskaf gaan word wanneer Nokeng by die Tshwane-metroraad ingelyf word nie.
“Nee, dit is nie. Nokeng gaan nog tot Junie volgende jaar ’n begroting hê en ek het ’n motor nodig om my pligte uit te voer.”
Digoro het haar duidelik vervies toe sy daarop gewys is dat ’n brandweervoertuig en die raad se stootskraper al maande lank buite werking is.
Die brandweervoertuig het ’n battery en die stootskraper ’n nuwe lem nodig, maar dit kan glo weens gebrekkige finansies nie aangekoop word nie.
Sy sê die media was nog altyd daarop uit om haar as ’n spandabelrige burgemeester uit te beeld.
Digoro sê die aankoop van die ampsmotor is kragtens die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) gekoop.
“Maar wat help dit ek verduidelik dit vir jou. Jy weet niks nie. Julle joernaliste is net daarop uit om propaganda te bemark, maar kom ek sê jou jy sal nooit wen nie, want die ANC sorg vir sy mense.
“Jou regering het destyds nie mediavryheid toegelaat nie en nou maak jy misbruik van dié voorreg om my te pla met goed waarvan jy niks weet nie,” het sy gesê.
Daar is gister vergeefs probeer uitvind waarvoor R5 miljoen aan Nokeng toegestaan is. Nokeng het in Junie 2009 ook R5 miljoen by die provinsie gekry. Dit was vir die aankoop van grootmaatdienste.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment