Sunday, April 18, 2010

Wees manne,nie sissies - Angus Buchan...Mighty Men 2010




Wees manne, nié sissies – Angus


2010-04-17 22:50
Angus Buchan
Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Johannes de Villiers en Henry Cloete
Die magtige manne bulder na verwagting vandag hul laaste amen op Angus Buchan se plaas.
Die opkoms by die Mighty Men-saamtrek is veel laer as die 400 000 waarvoor Buchan gehoop het (ramings wissel van 200 000 tot 300 000), maar tog het mans sedert Vrydag vir oulaas hier byeengekom om ywerig te luister hoe Buchan hulle aanmoedig om in die land en hul huishoudings leiding te verskaf.
Dit is die laaste Mighty Men-saamtrek op die plaas.
Buchan het mans aangemoedig om “wagters vir die huis” te wees deur wag te staan teen die sonde.
Hy het gepraat oor die vrees vir die land se toekoms. “Moenie van Suid-Afrika weghardloop nie!” het hy drie keer gebulder. “Jou probleme gaan jou volg waar jy ook al gaan. Daar is ook bang mense in Australië!”
Buchan was nostalgies oor die afgelope sewe jaar en die impak daarvan op mans. “Toe ek sewe jaar terug begin het, het mense my gevra ‘Vir wat noem jy dit Míghty Men? Ons dog dan Christene moet nederig wees?’ Ek het gesê ons ís nederig, maar ons is magtig in God. Ons moet ons skouers teruggooi, ons bors uitstoot en trots in God wandel.”
Buchan het ’n paar keer gesê mans moet “ware mans” eerder as “patete” (wimps) of “sissies” wees. Hy het mans aangemoedig om meer soos Elia te wees. “Elia was nie ’n sissie nie! Hy was ’n harige man met ’n leerbelt!”
Al sou dit beslis die laaste Mighty Men-saamtrek op sy plaas wees, het hy geskimp hy sou teen die einde van die naweek ’n verrassende aankondiging in dié verband doen. Daar gaan ook provinsiale en oorsese opvolgbyeenkomste wees.
Hoewel Buchan by verlede jaar se saamtrek in duie gestort het, het sy gesondheid gisteraand nog gehou. Hy het weer tydens dienste rondgetrippel en op die verhoog opstote gedoen. Die naaste aan ’n ongeval was ’n konferensieganger wat Vrydagaand kort voor Buchan se verhoogoptrede ’n hartaanval gekry het, maar ook hy het oorleef.
Mans op die plaas was vol lof vir die Mighty Men-saamtrekke se nalatenskap, maar elders was daar meer gemengde gevoelens.
Prof. Julian Müller, teoloog van die Universiteit van Pretoria, begryp gelowiges se behoefte aan ’n pelgrimstog wat ’n “gevoel van sekerheid in onsekere tye gee”.
“Die probleem is dat daar ook negatiewe elemente ingesluip het. Die Mighty Men-beweging het nie verantwoordelike Skrifgebruik bevorder nie. Die Bybel is sonder verantwoordelike interpretasie gebruik.
“En die hele idee van ‘mighty’ pas nie by die evangelie van Christus nie. Die saamtrekke het veral in die verhouding tussen man en vrou ’n godsdienstige fondament aan ongelykheid gegee.”
Die digter Lina Spies, wat Buchan al in rubrieke gekritiseer het, het gesê sy verset haar steeds teen sy teologie, want “hy verkondig die onderdanigheid van die vrou asof dit die kern van die evangelie is. Jesus het voortdurend grense oorskry: tussen Jode en Samaritane, én tussen man en vrou.”
- Rapport

No comments:

Post a Comment