Monday, April 12, 2010

Meer as R4 miljoen vir waBenzi’s




Meer as R4 miljoen vir waBenzi’s


2010-04-11 23:28

PIETER DU TOIT
Kaapstad
Die weermag het nie geld om sy duur fregatte en duikbote of sy moderne Gripen-vegvliegtuie behoorlik te gebruik nie, maar bestee tussen R4 miljoen en R7 miljoen aan luukse Mercedes-Benz’e.
Hoewel dié bedrae nie ’n wesenlike verskil aan die weermag se vemoë kan maak om sy mandaat uit te voer nie, is dit beslis ’n aanduiding van die departement van verdediging se bestedingsprioriteite, sê mnr. David Maynier, DA-LP en woordvoerder oor verdediging.
Volgens Krygkor is die departement besig om agt luukse voertuie aan te skaf. Dit sal in Pretoria en Kaapstad gebaseer en gebruik word vir die vervoer van hoës.
Dié voertuie sluit in een C-klas- outomatiese sedan (met ’n waarde van tussen R350 000 en R900 000), vier E-klas- outomatiese sedans (met ’n waarde van tussen R480 000 en R1,17 miljoen elk) en drie luukse busse ter waarde van tussen R420 000 en R485 000 elk.
“Die departement kla die verdedigingsbegroting is te laag om soldate behoorlik te betaal, basisse te onderhou en toerusting te bedryf, maar spandeer steeds byna R7 miljoen aan ’n vloot luukse voertuie,” sê Maynier in ’n verklaring.
Dit gaan niks doen om LP’s aan die departement se kant te kry wanneer daar om nog geld gebedel word nie. “Dit verminder vertroue in die departement se vermoë om sy hulpbronne te bestuur. Die DA doen ’n beroep op min. Lindiwe Sisulu om dié spandabelheid te stop.”
Enkele weke gelede het dienshoofde aan LP’s te kenne gegee die kleinerwordende verdedigingsbegroting is besig om die weermag se vermoë om sy grondwetlike mandaat na te kom negatief te beïnvloed. Maynier sê egter die gesaghebbers in die departement slaag nie daarin om ’n oortuigende argument op die tafel te plaas oor waarom LP’s die tesourie moet aanvat om meer geld aan die weermag beskikbaar te stel nie. “Ons verstaan die begroting van R1,2 miljard is hopeloos te klein, maar tussen die departement se gebrekkige bestuur van sy eie geldsake en voorvalle soos dié, is dit moeilik om die kwessie vorentoe te neem.”
Sisulu verskyn môre voor die parlementêre portefeuljekomitee oor verdediging.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment