Wednesday, April 21, 2010

Hoogdrama toe polisie motorkaper deur Vrystaat jaag


Hoogdrama toe polisie motorkaper deur VS jaag

2010-04-21 00:31
JOHAN BRITS
In ure van hoogdrama oor etlike dorpe in die Vrystaat heen het ’n vermeende motorkaper eers sy slagoffer glo langs die pad uitgegooi en later op polisielede geskiet voordat hy sy rieme by padwerke buite Paul Roux vasgeloop het.
Danksy ’n stop-en-ry-beheerstelsel 7 km buite Paul Roux kon dié verdagte, ’n 34-jarige Lesotho-burger, nie ’n tree verder ry nie en is hy in hegtenis geneem.
Kapt. Rulene Kühn, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die verdagte was gisteroggend ’n pendelaar in ’n taxi op Sasolburg.
Toe hy mnr. Jeremia Vilakazi (39), die taxi-bestuurder, moes betaal, het hy glo Vilakazi met ’n skoktoestel in die nek geskok, sê Kühn.
Hy het daarna glo Vilakazi se oë toegemaak en sy hande vasgebind.
Dit was net hulle in die taxi.
Die verdagte het na bewering met die taxi weggery en Vilakazi tussen Heilbron en Edenville langs die pad in die veld uitgegooi. Hy het verder gery.
Vilakazi kon danksy verbygaande motoriste wat hom te hulp gesnel het, die polisie in kennis stel.
Die polisie van Heilbron en Edenville is toe verwittig.
Die verdagte het verby Steynsrus na Senekal se rigting gery.
Die Senekalse polisie is op hul beurt in kennis gestel en kon die verdagte in ’n stadium agterna sit.
Buite Senekal het hy glo skote op die polisielede afgevuur.
Kühn sê die polisie het teruggeskiet, maar niemand is beseer nie.
Die verdagte het net aanhou ry.
Ongeveer 7 km buite Paul Roux het die vermeende kaper hom tromp-op in ’n stop-en-ry-beheerstelsel vasgery.
’n Vragmotor was agter die taxi.
“Hy het gesien hy kan nie verder ry nie en is vasgekeer. Hy het toe uit die taxi gespring.”
Lede van die Ladybrandse polisie het ook in die ry by die beheerstelsel gestaan.
Hulle het die verdagte gesien, agterna gesit en in hegtenis geneem.
Kühn sê die polisie het nog nie op die vuurwapen beslag gelê nie.
’n Dossier vir motorkaping is aangelê.
Volgens Kühn sal die saak na die Viljoensdrif-polisiekantoor oorgeplaas word.
Hy sal daar in die hof verskyn.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment