Friday, April 23, 2010

Gesondheid in Vrystaat kort miljoene







Gesondheid in Vrystaat kort miljoene
2010-04-23 01:46

Cathy Dlodlo
Die Vrystaatse departement van gesondheid het ’n geldelike agterstand van R700 miljoen vir die opknapping en die aankoop van toerusting, sê verskeie ingeligtes in die departement.
Mnr. Gerhard Koorts, Vrystaatse bestuurder van die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA), stem saam. Hy sê benewens die feit dat die departement nie duisende kritieke poste vul nie, is verouderde toerusting ook ’n groot probleem.
Volksblad het gister berig dat die departement meer as 12?000 vakante poste in die provinsie het. Gesondheidswoordvoerders van die verskillende opposisiepartye meen die departement vul nie die poste nie in ’n poging om uit sy finansiële verknorsing te kom.
Koorts sê dit is tyd dat premier Ace Magashule sy draaistrategie-beloftes nakom. Hierdie strategie kom nadat die premier verlede jaar ’n gesondheidsberaad in die provinsie gehou het om swak dienslewering deur die departement van gesondheid te pak. Koorts sê die probleme binne die departement en die tekort aan geld sloer nou al twee jaar en gaan vererger.
“Magashule moet dringend sy beloftes nakom om die bietjie kundigheid wat nog in die Vrystaat oor is, te behou en te versterk.”
Volksblad het vroëer berig dat daar net een masjien in die Motheo-distrik is vir mammogramme. Dit is al nege maande stukkend. Die Pelonomi-hospitaal s’n het al meer as drie jaar gelede gebreek.
Mnr. Jabu Mbalula, woordvoerder van die departement, het op Volksblad se navrae gesê die departement is bewus daarvan en wil dit herstel.
“Dit neem baie tyd in beslag weens ou tegnologie en ons ervaar oponthoude.”
Afgevaardigdes van die departement het onlangs die gewese adjunkminister van gesondheid, dr. Molefi Sefularo, ingelig dat die departement ’n diagnose-masjien vir die N1H1-virus aangekoop het, maar dit staan nog in ’n pakkamer. Dit kom ondanks die feit dat baie provinsies besluit het om nie die masjien te koop nie omdat kenners verskil oor die doeltreffendheid en ekonomiese haalbaarheid daarvan.
Die Universitas-hospitaal sukkel glo erg weens die agterstand met toerusting. Volgens ingeligtes is sommige teaters nie ordentlik toegerus nie en sommige mediese toerusting in laboratoriums is al in 1997 aangekoop. Volgens mediese kenners moet dié toerusting nie meer as tien jaar gebruik word nie.
Personeel in die Vrystaatse psigiatriese kompleks (Oranje-hospitaal), is ook veronderstel om beskermende klere te dra, maar die departement verskaf dit nie.
Die departement sê in reaksie op klagtes oor die toerusting en beskermingsklere, die situasie word deur provinsiale maatreëls vir kostebesparing en ’n beperkte begroting veroorsaak.
Mnr. Vax Mayekiso, provinsiale sekretaris van Cope in die Vrystaat, verskil.
“Die provinsie het genoeg geld, maar dit word swak bestuur. Dis ’n geval van blindes (bestuur in die departement) wat sienendes (medici in die provinsie) probeer lei.”
Mayekiso sê die departement versaak die inwoners van die provinsie. Dit is onaanvaarbaar dat die departement ’n agterstand met toerusting het, maar eerder kans sien om ’n nuwe hospitaal van R400?miljoen te bou.
Mnr. Abrie Oosthuizen, leier van die VF+ in die provinsie, sê die verouderde toerusting kan daartoe bydra dat al hoe meer medici uit die departement se diens bedank. Dit maak dit vir mediese personeel onmoontlik om kritieke gevalle in teaters te behandel en om pasiënte aan die lewe te hou.
“Dié departement kry die naasgrootste deel van die begrotingskoek. Die probleem lê by sy bestuur.”
- Volksblad

No comments:

Post a Comment