Friday, April 23, 2010

Skeidingspakket van R2 m. laat DA, ANC koppe stamp




Skeidingspakket van R2 m. laat DA, ANC koppe stamp


2010-04-23 01:29

Alicestine October
Kaapstad
DA-lede van die Wes-Kaapse staande komitee oor openbare rekeninge het gister laer getrek rondom die provinsiale minister van onderwys toe hy in die spervuur beland het oor die uitbetaling van ’n skeidingspakket van sowat R2 miljoen.
Die beëindiging van die dienskontrak van mnr. Ron Swartz, gewese hoof van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, was ter sprake.
Swartz se dienskontrak is twee jaar vroeg beëindig nadat die DA verlede jaar in die Wes-Kaap aan die bewind gekom het.
Vyf ander senior amptenare in die provinsiale regering is sedertdien geskors en ’n verdere 310 poste gaan afgeskaf word.
Mnr. Donald Grant, provinsiale minister van onderwys, is gevra om voor Skoor te verskyn om antwoorde oor die skeidingspakket te gee.
Grant het tydens gister se sitting gesê dit is algemene gebruik om die dienskontrakte van hoofde van departemente streng ingevolge die relevante wetgewing te hersien.
Toe mnr. Max Ozinsky, ANC-LPP, vrae na aanleiding van Grant se verduideliking begin stel het, het DA-lede die relevansie daarvan bevraagteken. Hulle het gesê hulle aanvaar Grant se uiteensetting van die redes waarom Swartz se dienskontrak beëindig is.
Ozinsky het die DA van toesmeerdery beskuldig.
“Dit maak ’n bespotting van Skoor en sy rol in demokrasie en oorsig,” het hy uitgevaar.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment