Sunday, April 18, 2010

Genoeg om jou siek te maak


Genoeg om jou siek te maak
2010-04-17 22:50

Dr. Thomas Bredenkamp, Shongwe se hoof van ortopedie, behandel ’n kind in die laaste bruikbare tea­ter in die hospitaal.
Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Anna-Maria Lombard
Slapende verpleegsters, dokters wat nie vir diens aangemeld het nie, onversorgde pasiënte, skokkende higiëne en swak instandhouding.
Dít is wat me. Dikeledi Mahlangu, Mpumalanga se LUR vir gesondheid, aangetref het toe sy haar as ’n pasiënt vermom en provinsiale hospitale besoek het.
“Ek was geskok oor wat ek by die meeste hospitale gesien het,” het Mahlangu ná die verrassings­besoeke vroeër vandeesmaand gesê.
“Pasiënte was verwaarloos, die diens swak, personeel het nie omgegee nie, die hospitale was vuil en toesig en bestuur het ontbreek.”
Tonga, Shongwe en Tintswalo tel onder die hospitale wat sy besoek het. Al drie is in landelike gebiede en bedien duisende Suid-Afrikaners, die meeste van hulle arm.
By Tintswalo was net twee verpleegsters aan diens. Hul kollegas – sowel as die skakelbordoperateur – het aan diens geslaap. Daar was geen dokters nie.
By Shongwe was verpleegsters ook in droomland, en in die kraam­saal het vroue twee-twee in ’n bed gelê.
Ook Tonga se ontvangs was verlate.
Rapport het ook van Mpumalanga se hospitale besoek en gevind dat pasiënte soms tot drie dae wag om ’n dokter te sien.
By Shongwe dreig minstens 12 van die kliniese personeel, onder wie dokters, ’n apteker en ’n tandarts, om te loop weens gebrekkige instandhouding en swak bestuur.
Dr. Sonke Dlamini, Shongwe se superintendent, sê hy het 12 dokters, maar benodig 25.
Hy is moedeloos en weet nie meer hoe om sy span te motiveer nie. “Ek weet nie wat om te doen nie. Ek het nie ander werk nie. As ek kon, sou ek waai.”
Maar sommige by Shongwe meen die lae moraal is juis Dlamini se skuld.
Hy het ’n private praktyk in ’n ander dorp wat hy verhuur, maar Shongwe se dokters sê hy is dikwels afwesig. Dlamini ontken dit.
Dr. Thomas Bredenkamp, Shon­gwe se hoof van ortopedie, het verlede week aansoek gedoen om ’n oorplasing na ’n ander landelike hospitaal.
“Mens raak moeg vir baklei. Ek sou graag hier wou aanbly, maar dinge het te veel vir my geword.”
Rapport het twee maande gelede ook berig oor die erge medisyne­tekorte in Mpumalanga-hospitale.
Dinge het sedertdien nog verder verswak by die Tintswalo-hospitaal naby Acornhoek.
Hier wag pasiënte ook tot drie dae op ’n dokter.
’n Verwysingshospitaal soos Tonga buite Nelspruit het 90 dokters vir 400 beddens. Tintswalo het maar 10 dokters vir 420 beddens.
Sommige dokters sê pasiënte sterf onnodig omdat daar geen infeksiebeheer oor tuberkulose- en MIV-pasiënte is nie. Boonop moet chirurgiese pasiënte dikwels langer in die hospitaal bly om inspuitings te kry omdat die orale medisyne op is.
Die LUR het ’n verlate skakelbord by Tonga aangetref, maar Rapport het gevind dat daar ten spyte van soortgelyke uitdagings groot vordering hier gemaak word.
Intussen duur die medisyne­tekorte voort.
Die onderneming wat medisyne moet versprei, trek eindelik – sowat twee jaar nadat die bouwerk klaar is – na hul nuwe stoor. Aptekers is verlede week ingelig die medisynestore is gesluit vir die res van April – hulle het ’n dag voor die sluiting die kennisgewing gekry en dus geen tyd gehad om voorraad op te bou nie.
Mahlangu vergader oormôre met die provinsie se senior bestuur.
“Die doel is nou regmaak eerder as straf. Maar ons kan nie sê daar sal geen strafmaatreëls in die nabye toekoms kom nie.”
- Rapport

No comments:

Post a Comment