Thursday, April 29, 2010

Hoë verdien vet salaris tuis

Hoë verdien vet salaris tuis

2010-04-28 23:50

Cathy Dlodlo

Die hoof van die Vrystaatse departement van gesondheid is al agt maande lank nie op kantoor nie, terwyl hy nog elke maand salaris kry. Intussen steier dié departement weens duisende vakante poste en ’n agterstand van miljoene rande vir die onderhoud en aankoop van toerusting.

Prof. Pax Ramela, amptelike hoof van die departement, is sedert Augustus verlede jaar “afwesig” terwyl hy nog elke maand salaris trek. As hoof van die departement beloop sy salaris R1,3 miljoen per jaar of R108 000 per maand.

Volgens bronne in die departement het premier Ace Magashule vir Ramela in Augustus 2009 in kennis gestel dat hy oorweeg om hom te skors. As Vrystaatse premier is Magashule verantwoordelik vir die aanstelling van departementshoofde.

Ramela is toe ook versoek om voortaan nie vir werk aan te meld nie.

Die rede hiervoor is glo dat Ramela en me. Sisi Mabe, LUR vir gesondheid, nie met mekaar oor die weg kom nie.

Sowat vier maande later, in Desember, is Ramela amptelik verwittig dat sy kontrak van vyf jaar ná net twee jaar se diens beëindig word. Magashule het glo gesê die rede hiervoor is omdat Ramela en Mabe se werksverhouding “onherstelbaar” verbrokkel het. Nou, meer as agt maande later, blyk dit nie veel het verder gebeur nie. Ramela verdien sy salaris steeds tuis, terwyl dr. Sipho Kabane in sy plek as hoof van die departement waarneem.

Daar bestaan glo geen bewyse dat hy ingevolge ’n ondersoek amptelik intern aangekla of geskors is nie. ’n Klagstaat is glo ook nie aan hom beteken nie.

Mnr. Gerhard Koorts, bestuurder van die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA) in die Vrystaat, sê dit is ’n vermorsing van geld. As die voormalige departementshoofde steeds hul salarisse kry, kan die premier mos hul ondervinding en kwalifikasies beter benut.

Bronne in die departement sê Ramela is “verwyder” omdat hy nie as ’n “Maga-shule-man” beskou word nie. Ramela is deur die vorige premier, me. Beatrice Marshoff, aangestel. Baie van die departementshoofde wat Marshoff aangestel het, is na ander departemente of afdelings geskuif, terwyl hulle steeds hul salarisse as departementshoofde verdien.

  • Die voormalige hoof van die departement van polisie, paaie en vervoer, adv. Makhosini Msibi, is nou hoof van die staatsgarage;
  • Die voormalige hoof van die departement van landbou, mnr. Sugar Ramakarane, is na die premierskantoor ?verskuif;)?Die voormalige hoof van die departement van veiligheid en sekuriteit, mnr. Jack Klaas, is na die departement van die premier verskuif; en
  • Die voormalige hoof van die departement van maatskaplike ontwikkeling, dr. Maboreng Maharaswa, is na die departement van die premier verskuif.
  • Ramela het botweg geweier om Volksblad se vrae te beantwoord. Intussen wag Volksblad steeds op amptelike antwoorde van die departement op vrae rakende swak dienslewering, die duisende vakante poste en die agterstand in die onderhoud en aankoop van mediese toerusting.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment