Sunday, April 11, 2010

Jeugliga-lede skel Malema tot swye











Jeugliga-lede skel Malema tot swye
2010-04-10 23:01


’n Aanhanger van Julius Malema sing die lied Skiet die boer voor die ANC-jeugliga se agtste provinsiale konferensie in Limpopo by die Makhado-kollege in Makhado, Limpopo.
Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
piet Rampedi
Mnr. Julius Malema, omstrede leier van die ANC-jeugliga, het gister van sy eie medisyne gekry toe afgevaardigdes by die jeugliga se provinsiale konferensie hom gekoggel en gekeer het om sy toespraak te lewer.
Die ANC-jeugliga in Limpopo se verkiesingskonferensie is in chaos gedompel nadat Malema sy steun toegesê het aan mnr. Jacob Lebogo, die ANC-jeugliga se streeksekretaris, wat mnr. Lehlogonolo Masoga, huidige provinsiale jeugligaleier, uitdaag.
Die gemoedere het so hoog geloop dat die polisie met ’n waterkanon en rubberkoeëls op jeugligalede buite die konferensiesaal losgebrand het. Minstens drie afgevaardigdes is in die hospitaal behandel.
Die kandidate se ondersteuners het gistermiddag in die saal by die Makhado FET College woedend op mekaar begin skreeu en vloek terwyl ander openlik vir Malema “oorlog! oorlog!” geskree het.
Dit het gekom nadat Malema vroeër gister ten aanskoue van die media ’n jeugliga-afgevaardigde met ’n stoel toegetakel het toe dié hom by die akkreditasietafels uitgejou het. Die polisie moes ook Vrydagaand ingryp toe die strydende partye mekaar met klippe gegooi het.
Die gemoedere het veral gistermiddag oorgekook toe ’n groep Masoga-ondersteuners die saal binnegekom het met twee baniere met onder meer die woorde “Nee vir tenderkomiteeleierskap”.
Mnr. Leslie Malala, woordvoerder vir die Masoga-ondersteuners, het gister gesê hulle wil nie hê Malema of mnr. Cassel Mathale, premier van Limpopo wat Malema vergesel het, moet hulle toespreek nie.
Hulle was ook woedend omdat Malema-hulle die konferensie laat begin het voordat alle afgevaardigdes geakkrediteer was.
Die Masoga-ondersteuners het sowat 20 minute lank anti-Malema-liedere gesing voordat mnr. Mavhungu Leruli, provinsiale adjunkvoorsitter, hulle tot bedaring kon bring.
Die kalmte was egter van korte duur, want hulle het skaars gesit toe Malema-ondersteuners in geel T-hemde hulle uitgejou het.
Te midde van die chaos het Malema die media opdrag gegee om die saal te verlaat en hy het die polisie gevra om sy teenstanders te verwyder.
Die Masoga-ondersteuners het hom egter luidkeels aangeval oor sy hantering van die media en die polisie het gesê dit is nie hul werk om die oproerige konferensiegangers te verwyder nie.
Malema het eindelik teen 15:00probeer om die mense in die saal te midde van die onderbrekings toe te spreek, maar is telkens ook deur rumoerige jeugligalede buite die saal onderbreek.
“Sekuriteit, stop hierdie ding wat my in die rede val,” het Malema gesê.
Hy het ook gesê ’n nuwe leierskap sál verkies word.
“Oorlog of geen oorlog nie, laat die konferensie voortgaan. Laat die oorlog demokraties wees.”
- Rapport

No comments:

Post a Comment