Friday, April 16, 2010

Polisie besluit dat oud - President FW de Klerk moet koeëlvaste voertuig kry






















Polisie besluit FW moet koeëlvaste voertuig kry






2010-04-16 22:09
De Klerk
Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Lizel Steenkamp
Kaapstad. – Oudpres. FW de Klerk kry eersdaags ’n spesiale koeëlvaste voertuig om sy persoonlike veiligheid op te skerp.Die polisie het dié voertuig twee maande gelede bestel, in dieselfde tyd toe die land die 20ste herdenking van die vrylating van oudpres. Nelson Mandela gevier het. Dit was nie op aandrang van De Klerk nie, maar op grond van hul eie intelligensiewerk.Kol. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het aan Beeld bevestig dat Mandela en oudpres. Thabo Mbeki “lankal en nog altyd” in koeëlvaste motors ry.Op die vraag hoekom die polisie juis nou besluit het om ’n soortgelyke voertuig vir De Klerk aan te skaf, het Naidoo gesê hy kan nie meer besonderhede bekend maak nie. “Dis ’n operasionele kwessie. Ons maak nie inligting rondom belangrike persone se veiligheid bekend nie.”Mnr. Dave Steward, hoof van die FW de Klerk-stigting, het gister gesê De Klerk het “informeel verneem” dat hy ’n koeëlvaste voertuig gaan kry. “Die veiligheidsvereistes word deur die polisie bepaal, dit was hul besluit.”Volgens hom het De Klerk nog nooit buitensporige stappe gedoen om sy persoonlike veiligheid te verseker nie en laat hy dit aan kundiges binne die polisie oor.Die stigting het wel ’n paar beledigende en erg aggressiewe e-posse wat ná die moord op mnr. Eugène Terre’Blanche, AWB-leier, aan De Klerk gestuur is, na die polisie verwys.“Dit lyk na mense wat dalk ’n bedreiging kan inhou. Dis min van hulle en hoewel hulle nie direkte dreigemente gemaak het nie, is hulle baie aggressief. Daar is geskryf dat hy moet ‘boet’, dat hy ’n ‘volksverraaier’ is en dat hy ‘die bloed van boere op sy hande het’,” het Steward gesê.Alle oudpresidente en hul adjunkte is ingevolge die ministeriële handboek op polisiebeskerming geregtig. Dit word grootliks deur die polisie se BBP-eenheid gehanteer. Die koste van nuwe voertuie kom uit die departement van polisie se begroting. Beeld het gister vasgestel ’n koeëlvaste voertuig kan tot etlike miljoene rande kos, afhangend van die model en vlak van veiligheid wat dit bied.Volgens mnr. Reandren Thulkanam, produkbestuurder van Mercedes-Benz Suid-Afrika, bied die E-klas koeëlvaste voertuig beskerming teen handwapens. Die koopprys is sowat R1,7 miljoen. Die S-klas koeëlvaste voertuig kan AK47-aanvalsgewere en handgranate deurstaan en kos tot R6,3 miljoen.Die voertuie word net op bestelling vervaardig en bestuurders word aangeraai om spesiale bestuursopleiding in Duitsland te kry omdat dit byna dubbel soveel as ’n normale voertuig weeg en anders hanteer.

No comments:

Post a Comment