Monday, April 12, 2010

Knysna-inwoners skrik vir oefening


Knysna-inwoners skrik vir oefening

2010-04-11 23:28
Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
EUGENE GUNNING
Knysna
Die konsternasie Vrydag in Knysna se middedorp nadat skokgranate gebars, ’n oranje rookbom ontplof en ’n polisiehelikopter laag oor die skare gedraai het, was die polisie se vertoning van hul paraatheid vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi.
Hoewel geen wêreldbekerwedstryde in die Suid-Kaap gespeel word nie, sal spanne van Denemarke, Frank­ryk en Japan hul basiskampe hier vestig – Denemarke en Frank­ryk in Knysna en Japan in George.
Die polisie het Vrydag reeds vroeg ’n deel van die hoofpad in die middedorp gesluit. Dit het groot verwarring onder bekommerde inwoners en besoekers aan die gewilde Tuinroetedorp gesaai.
Groot getalle polisielede was teenwoordig, gerugsteun deur verskeie aksievoertuie en ’n helikopter.
Lede van ’n spesiale taakmag het gewys wat hulle in ’n onrussituasie kan doen: skokgranate is gegooi en rookbomme het ’n swaar oranje wolk oor die N2 en die middedorp laat hang.
Me. Eleanor Bouw-Spies, burgemeester van Knysna, het gesê sy het vroeër die oggend telefoonoproepe van bekommerde inwoners ontvang.
Lt.-genl. Mzwandile Petros, Wes-Kaapse polisiehoof, het 20 nuwe polisievoertuie ter waarde van sowat R1,8 miljoen aan die dorp oorhandig.
Altesame 120 SAP-lede word ook in die streek ontplooi.
Gaslande sal ook lede van hul polisiemagte saambring om raadgewend op te tree.
Petros het benadruk dat veiligheid almal se verantwoordelikheid is. Nie almal kom na die gebied met edele motiewe nie en booswigte is reeds daar.
Genl.-maj. Allan Mondisa, streekkommissaris van die polisie in die Suid-Kaap, wat vir die beveiliging van die toernooi in die streek moet sorg, het gesê daar is ’n geneigdheid onder jonger SAP-lede om geen waardering te hê vir wat gedoen word om hul werksomstandighede te verbeter nie. Van die voertuie word byvoorbeeld nooit versien nie.
Mondisa het polisie-gemeenskapsforums gevra om dit aan te meld wanneer hulle sien dat SAPD-voertuie misbruik word en nie in stand gehou word nie.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment