Monday, April 19, 2010

Lugwaardin se klag ‘skending van regte’




Lugwaardin se klag ‘skending van regte’


2010-04-19 02:42
Aldi Schoeman
KAAPSTAD. – ’n Lugwaardin van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se klag teen ’n passasier nadat hy Afrikaans met haar gepraat het, is gister as “skrikwekkend” en “ ’n duidelike skending van grondwetlike regte” beskryf.
Volgens mnr. Hendrik Lemmer, ’n eiendomsagent van Stellenbosch en hoof van padfietsry van Fietsry Suid-Afrika, was die lugwaardin “van die begin af ongeskik met ons” op die vlug Dinsdagaand van Johannesburg na Kaapstad.
Die passasier langs Lemmer het glo nie na die lugwaardin gekyk ten tyde van die spesiale veiligheidsinligtingsessie vir die ry by die nooduitgang, waarin hulle gesit het nie. Die lugwaardin “het soos ’n onderwyseres teen ’n skoolkind” opgetree en gesê hy het nie geluister nie.
Later het die lugwaardin weer aan hul ry aandag gegee en Lemmer het glo skertsend aan haar gesê: “Ek sien jy warm nou op teenoor ry 16.”
Sy het weggeloop en die hooflugwaardin het ná ’n rukkie kom sê hy het die lugwaardin in ’n verleentheid gestel voor die ander passasiers, omdat sy hom nie kon verstaan nie.
Lemmer het gesê hy is “nie ’n groot aktivis vir Afrikaans nie” en sou Engels gepraat het as die lugwaardin gevra het.
“Ons het 11 amptelike tale en SAL is ’n staatsondersteunde instelling. Ek verwag sigbare optrede (deur SAL) teen die persoon, en nie net ’n klappie op die vingers nie,” het prof. Wannie Carstens, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, by navraag gesê.
Mnr. Christo van der Rheede, direkteur van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, het gesê die lugwaardin moes die passasier versoek het om ’n ander taal te praat.
“Dit is daardie persoon (die lugwaardin) se reg om te sê ek verstaan nie.”
As die passasier nie ’n ander taal kon praat nie, moes die lugwaardin ’n ander bemanningslid geroep het of ’n passasier gevra het om te tolk.
Carstens het gesê: “Dit is basiese ordentlikheid om Engels of ’n ander taal te praat as jy agterkom die ander persoon verstaan nie. Maar niemand kan my nie daarvoor blameer dat ek eerste Afrikaans praat nie.”
Mnr. Sibusiso Nkosi, woordvoerder van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, het gesê “sulke gedrag word nie aangemoedig nie, veral nie waar die belastingbetaler se geld betrokke is nie”.
Mnr. Fani Zulu, SAL se kommunikasiehoof, het gesê die voorval word ondersoek. “Ons het geen spesifieke posisie wat sê ons praat nie Afrikaans nie. Ons sal ’n taal praat wat albei kan verstaan.”
- Volksblad

No comments:

Post a Comment